As jy een van die gelukkige boere was wat nog salig en in vrede geboer het in die sestiger, sewentig, tagtig en negentigjare, en later, dan sal jy baie dinge onthou van die lekker "oesdae" van Nampo soos ons dit geken het.
Die gees wat by Nampo geheers het, waar Nampo tans is, in die jare sewentig en tagtig tussen ons jong en ou boere was een van samewerking en absolute vertroue. Saam het ons gekuier in fasiliteite wat ons saam aanmekaar geslaan het-
Die klipkroeg met die grasdak was die samekoms en kuierplek van almal, en daar is groot stories gepraat. Dis die tyd toe daar nog regte egte bankbestuurders was, wat saam met koperasie bestuurders saamgekuier het,en net sommer die 3 dae lekker geniet het. Daar was geen geheime nie en daar is groot boerdery stories gesels.
Die geriewe was beperk, maar ons het geweet ons bou aan iets wat nog baie groot gaan word. Meeste van die manne het nog teruggery huistoe in die aande- Klerksdrop, Bothaville, Viljoenskroon, Wesselsbron en Hoopstad- was nie ver nie . Toe was die wereld nog mak en veilig en paaie sonder slaggate.
Daar was meestal net boere wat die "oesdae" soos die bekend gestaan het, besoek het in die begin dae. .... Vrouens, kinders, Oupas en Oumas het heerlik en rustig saamgekuier en lekker geeet aan al die lekker boerekos , pannekoek en braaivleis.
As jy daar naby geboer of gebly het, was 'n agtermiddag kuier saam met jou familie en kinders (wat sommer so in ry uit die koshuis gaan haal is) net genoeg om alles deur te loop en almal te groet.
Wanneer Nampo aan die gang is, is die Vrystaat op sy beste- so in mielie oestyd en koringplanttyd. Daar was altyd rekord oeste op die oesdagplaas-
Daar was ook dae wat ons pap nat gereen het- 2 tot 3 dae aanmekaar- modder en water -maar nog steeds het ons vasgebyt en deurgedruk. Mense het in tente gebly op die terrein en ook in park wat daarby is. Dis was nog altyd een groot kuier.
Met die tyd het die vee en perde oor hulle plek by die skou ingeneem. Fasiliteite is gebou om almal te huisves.. Landbou maatskappye was altyd gereed om 'n bydra te lewer as daar iets nuuts opgerig word.
Alles was nog daardie jare met die hand gedoen- die eerste rekenaar het die lig gesien rondom 1984- daar was nie slimfone nie en jy moes jou oproepe by die Nampo kantoor gaan maak en daar was ook nie outomatiese telefone nie. Dit was alles landlyne met sentrales- "nommer asseblief". Alles is kontant gekoop op die terrien want kaart masjiene was nog nie in gebruik nie. Daar is baie mense wat baie ander stories en gebeurtenisse kan onthou van Nampo in sy beginjare.
Dit was ook gebruik onder sekere boere om hulle jaarlikse trekkeraankope by Nampo te doen . Die transaksie is sommer net daar beklink met die ondertekening van 'n hand geskrewe Faktuur. Die Tjek is net daar uitgeskryf en aangeheg of Wesbank, Stannic of Ford Krediet was gereed om die finansiering te bevestig en net daar en dan 'n glasie geklink. Daar was nie sosiale media om op te spog nie. maar die goeie storie het redelik vinnig momentum gekry en gelukkig was die getroue Landbouweekblad ook daar. Die trekker is ook baie gevalle sommer reguit plaastoe na die skou verby is.
Fiat was een van die eerste trekkers om 'n vierwielaangedrewe kommersieele trekker te bemark- Die Fiat 1000 was 'n wenner op Nampo in die vroee tagtigjare.
In 1980/81/82/83 was 'n week se toer deur die Claas Fabriek in Duitsland ingesluit as jy 'n Claas Dominator stroper gekoop het vir ongeveer R32,000,00. Vetsak het letterlik honderde boere Duitsland toe geneem met baie goeie herinneringe en groot stories.
In 1983 het John Deere sy eerste trekker die lig laat sien wat in die middel geknak het met 8 wiele- die trekker se verkoopprys was R32,000.00. Die baie bekende ACO trekker van Alf en Koos Coetzer van Hoopstad wat ook in die middel geknak het met 12 wiele ,het reeds vroeer die lig gesien. Hierdie trekkers was baie gewild by Nampo in die tagtiger jare. Daar was baie eerstes en tegnologie het met die jare die oorhand geneem.
In 1982 het die NAMPO Shell-inligtingskompleks (kantoorgeriewe, persgeriewe en ‘n polisiestasie) die lig gesien- Malcomess wat Landinie en New holland verkoop se moderne gebou is op hul standplaas opgerig . Ford se opleidingsentrum vir werknemers het ook die lig gesien.. Mobil museum (huisves trekkers en implemente wat tot 1917 terugdateer) en Vetsak wat se fabriek in Bothaville was het sy eie gebou opgerig. Vetsak het Fiat en Claas bemark asook die bekende LM sleepwaens en ander toerusting.
Dit was alles die begin van Nampo soos dit nou daaruit sien.
Graan SA se NAMPO Oesdag het oor die afgelope halfeeu gegroei van ‘n klein begin in 1967 tot die gediversifiseerde landbouhandelstentoonstelling van wêreldformaat wat dit vandag is.
Die Oesdag het sy ontstaan te danke aan die inisiatief van drie produsente van Bloemfontein, Moos Haddad, Hannes van Wyk en George Stegmann. Vir mielieboere was die sestigerjare ‘n oorgangstyd na grootskaalse meganisasie en losmaathantering van grane en daar was ‘n wesenlike behoefte om trekkers en werktuie eerder op ‘n groter skaal onder werkende toestande te sien en te vergelyk as net een maatskappy wat sy produkte op jou plaas demonstreer.
Dié drie musketiers het die daad by die woord gevoeg en op 7 en 8 Junie 1967 is die eerste SAMPI Oesdag op Donkerhoek – die plaas van Hannes van Wyk – naby Bloemfontein gehou. In totaal het agt uitstallers deelgeneem en 203 mense het dit bygewoon. Hierdie beskeie begin was egter die ontstaan van ‘n landbougefokusde, behoeftegedrewe handelskou wat konstant gegroei het in die verlede meer as 650 uitstallers en bykans 70 000 besoekers geakkommodeer het.
Daar is soveel name wat ek kan opnoem wat deel was van die jaarlikse gebeurtenis- pioniers in hulle eie reg. Dis 'n lang geskiedenis wat sommer uitgewis gaan word nie.
Aanvanklik is daar uitsluitlik op mielieproduksie gefokus – veral die meganisasie-aspek daarvan deur middel van beheerde demonstrasies op ‘n nie-mededingende basis. Die demonstrasies was die hoogte punt van elke dag. Besoekers kon die werktuie sien werk en jy het die geleentheid gehad om 'n trekker en strope te toetsbestuur. Vandag is daar nie meer baie spasie nie . Dit is sedert 2010 na statiese uitstallings en virtuele tentoonstellings op uitstallers se standplase verander.
Die Oesdag is die perfekte geleentheid om nuwe tegnologie en ander produkte op een terrein met mekaar te vergelyk en te besluit watter produk, patent of tegnologie die beste op jou plaas toegepas kan word,- dit kos landboumaatskappye enorme hoeveelheid kapitaal om hier uit te stal en ook om die masjinerie by die oesdag plaas te kry.
’n Terugblik op die afgelope vyf dekades sal onvolledig wees sonder ‘n verwysing na die reuse-aandeel wat die boere as lede van produsente-organisasies én talle vrywilligers hierin gehad het. Sedert die ontstaan daarvan, word die Oesdag besit en aangebied deur vrywillige graanprodusente-organisasies: Oorspronklik deur die eertydse Mielieprodusente-instituut, SAMPI, later – ná eenwording in die mieliebedryf in 1980 – deur die Nasionale Mielieprodusente-organisasie, NAMPO; en sedert die konsolidasie van graanorganisasies in 1999 tot vandag, deur Graan SA.
Besoekers kan hulleself voorberei vir ‘n oesdagweek wat ‘n kombinasie van die nuutste meganisasietegnologie, ‘n wye verskeidenheid insetprodukte, voertuie, toebehore en meer bied. Meer as ‘n 90%-verteenwoordiging van groot- en kleinveerasse asook perde en selfs wildbedryfuitstallings is by die diere-afdeling te sien.
Sewe van die agt uitstallers wat aan die heel eerste Oesdag deelgeneem het, se produkte word steeds uitgestal, hoewel van hulle onder ander name. Verder duur die neiging van groeiende internasionale belangstelling deur beide uitstallers en besoekers voort.
Die 54ste NAMPO Oesdag, wat as die hartklop van landbou in Suid-Afrika beskou word, bied ‘n unieke platform waar produsente hul kennis kan uitbrei en nuwe tegnologie en produktiwiteitsoplossings kan verken. Verder bied NAMPO nie net ‘n geleentheid vir gesprek en dialoog nie, maar stel dit ook die publiek en ander rolspelers in staat om kommersiële landbou en voedselveiligheid en -sekuriteit in aksie te ervaar.
“Die uitwerking om sedert 2019 nie ’n Oesdag by NAMPO Park aan te kon bied nie, het verreikende gevolge nie net vir die organisasie gehad nie, maar ook vir die omliggende dorpe. Die plaaslike distrik, wat nog nie heeltemal van buitensporige waterskade in Januarie herstel het nie, maak staat op die ekonomiese en finansiële inspuiting wat deur die Oesdag meegebring is,” het Graan SA Bemarking, NAMPO & Navorsingshoof, dr Dirk Strydom gesê.
NAMPO-uitstallers wil produsente ontmoet en weer hul produkte ten toon stel. In oorleg met uitstallers het meer as 80% aangedui dat dit nodig is om die Oesdag in Mei 2022 aan te bied, en was dit eens dat ‘n ekstra dag in die skedule broodnodige sakegeleentheid kan byvoeg. Met byna 800 uitstallers is NAMPO dié platform om met die landboubedryf se toprolspelers te netwerk, vriendskappe en verhoudings te versterk en te geniet wat hierdie unieke vertoning bied in ‘n rustige plaas-atmosfeer.
Volgens Danie Minnaar, voorsitter van die NAMPO Oesdag, is die beste tegnologie en kennis vir produsente om volhoubaar te boer by NAMPO te vinde. “Al bly die landbou onder geweldige druk, het landbouers steeds genoeg passie vir boerdery om elke aspek van landbou wat die Oesdag bied te verken om mededingend en relevant te bly,” het hy gesê.
Die afwesigheid van NAMPO Oesdag het die kritieke rol wat hierdie platform speel om netwerkvorming in die landbousektor te fasiliteer, beklemtoon. “Om regeringsverteenwoordigers en belanghebbendes uit die landbouwaardeketting te ontvang, bied geleentheid vir belangrike en soms uitdagende gesprekke om plaas te vind in ‘n omgewing wat bevorderlik is vir en gemik is op die bevordering van die sektor plaaslik en regdeur die Sub-Sahara-streek,” het Dr Pieter Taljaard, Graan SA se Uitvoerende Hoofbestuurder mee afgesluit.
Die organiseerders van elke jaar se skou verdien net lof -dis harde werk wat telkemale beloon word. Dis nie altyd maklik nie, maar dis altyd suksesvol.
Nampo koors loop hoog- ons sien hoe opgewonde raak van die mense met hulle video kameras en fotos op sosiale media. Wees maar versigtig waar jy jou produk adverteer. En met die gesels program "Nasie in gesprek" gaan daar weer baie gesels word oor sake van die dag wat Landbou betref.
Dis die eerste Nampo sedert die ANC regering ons ingeperk het agv 'n virus in 2020. Boere en uitstallers wil mekaar net weer sien en gesels oor landbou.
Dis besig by Nampo park- dit was 'n miernes soos almal werk om hulle uitstallings klaar te maak. Ons was Saterdag daar en het so bietjie rondgekyk en gesels. 40 hektaar is toe onder uitstalruimte van byna 800 uitstallers. Ons het oor Nampo gevlieg en watter gesig om hierdie skou so te sien.
Ons span van AGRI NEWS NET en FARMINGPORTAL sal daar wees in week net vir een dag- Ons media span is ook op die terrein. Ons beweeg tussen ons mense en is nie deel van enige uitstalling nie- omdat ons elke dag deel is van elke kommersiele landbouer se dosis landbounuus op sy slimfoon. Hou jou slimfoon maar byderhand, want as een van ons mense jou dalk raakloop en vra of jy AGRI NEWS NET op jou slimfoon het- mag jy dalk net 'n gelukkige dag he.
Ons wens almal 'n baie suksesvolle Nampo toe- goeie besigheid, goeie vriendskappe en lekker kuier. Ry versigtig, wees verigtig en kyk uit vir gate in die paaie en kom veilig tuis.
Saamgestel deur - Johann Pretorius -CRA MEDIA.
Oesdag – só het dit ontwikkel - Gekiedenis
1967
1. Plaas Donkerhoek naby Bloemfontein
- Die eerste SAMPI Oesdag is op 7 en 8 Junie 1967 op die plaas Donkerhoek van mnr Hannes van Wyk gehou.
- Die SAMPI-distriksbestuur van Bloemfontein het die Oesdag begin. Mnre Moos Haddad, Hannes van Wyk en George Stegmann was die pioniers by wie die gedagte in 1966 posgevat het.
- Die kernfokus was om trekkers en implemente op ‘n nie-mededingende basis prakties te demonstreer sodat produsente dit self kan vergelyk.
1968
2. Plaas Hopefield naby Bloemfontein
- Vanaf 1968 is die Vrystaatse Oesdag aangebied op die plaas van Haddad.
- Dr AJA Roux, voorsitter van die Raad op Atoomkrag, was die hoofspreker en Fanus Rautenbach, alombekende radioman, was die aankondiger.
- Die Landman (voorganger van SA Graan/Grain) berig in Julie 1969 dat sowat 2 000 produsente oor die twee dae in 1969 op Hopefield teenwoordig was.
1968 - 1972
3. Buiten die Oesdag op Hopefield, is bykomende oesdae in die distrikte van Hendrina en Ottosdal gehou (1969 - 1972)
- By Hendrina, op die plaas Uitgezocht van mnr Tienie Louw.
- By Ottosdal, op die plaas Rietvlei van mev Annie Lombard.
- Volgens Die Landman is die normale prosedure gevolg soos wanneer ‘n produsent self sy oes sou bewerk. Demonstrasies het ingesluit dié van stilstaande dorsmasjiene, daarna selfaangedrewe en trekdorsmasjiene, waarop die omploeg van geoeste lande gevolg het.
- Planters in aksie is bygevoeg vanaf 1970.
1973
4. Eerste nasionale Oesdag tydelik gehou op Oesdagterrein te Ottosdal
- Na aanleiding van die Sentrale Oesdagkomitee se besluit in 1972 om vanaf 1973 die drie onderskeie oesdae in “een massiewe aanbieding” te kombineer.
1974
5. Sedert 1974 gehou op die nuwe Oesdagplaas, Marthaville, geleë naby Bothaville in die Vrystaat
- Die SAMPI Sentrale Oesdagkomitee, onder leiding van Van Wyk, het die plaas Marthaville aangeskaf en ontwikkel met die doel om dit “die jaarlikse middelpunt van landboumeganisasie in Suid-Afrika” te maak.
- Bothaville/Viljoenskroon-distrik is deur die Sentrale Oesdagkomitee beskou as ‘n lokaliteit wat maklik bereikbaar is vir produsente van reg oor die land. Ongeveer 80% van die destydse mielieproduksiegebied was binne ‘n radius van 160 km vanaf Bothaville geleë. Marthaville grens ook aan ‘n teerpad, wat toeganklikheid en verkeer optimaliseer.
- Twee restaurante en toiletgeriewe – die eerste geboue op die terrein – is in 1974 opgerig. ‘n Karavaanpark is op die terrein ingerig en Rondalia het mobiele kombuis- en eetwaens en mobiele toilet- en wasgeriewe vir die duur van die Oesdae by die karavaanpark beskikbaar gestel.
- Die Landman (Februarie 1974) beskryf die ontwikkeling van die Oesdagplaas as “‘n skitterende voorbeeld van samewerking en spanwerk tussen SAMPI se Oesdagbestuur en ‘n aantal private maatskappye en koöperasies wat die dienstema van die Oesdae op die hart dra.”
- Jaarliks het meer as 500 vrywilligers per dag bestaande uit lede van Graan SA en sy voorgangers en/of hul gesinne asook mense uit die gemeenskap, hul moue opgerol om eet- en drinkgoed voor te berei en aan Oesdaggangers te bedien. Alle aktiwiteite op die terrein is met behulp van ‘n komiteestelsel bedryf, onder leiding van die Oesdagkomitee.
- Vir die afgelope sowat tien jaar is die restaurante en wegneemete-kiosks egter op tenderbasis aan instansies soos skole, kerke en boereverenigings toegeken.
6. Internasionale deelname goed gevestig oor jare
- Globalisering het daartoe gelei dat internasionale deelname, naamlik afvaardigings én individuele of georganiseerde uitstallers, reeds sedert die tagtigerjare ‘n algemene gesig by die Oesdag geword het.
- Die Oesdag bied ’n ideale geleentheid vir internasionale uitstallers om ondersoek te kom instel of daar ‘n mark vir hul produkte in Suid-Afrika is en om kontak te maak met plaaslike verspreidingsnetwerke.
- Waar die tagtigerjare gekenmerk is deur enkele buitelandse uitstallers – soos dié vanaf Wes-Australië en Brasilië – asook besoekersgroepe, berig SA Graan/Grain-tydskrif deurlopend vanaf 2002 van individuele internasionale uitstallers asook georganiseerde uitstallersgroepe wat aan die Oesdag deelneem.
- ‘n Afvaardiging van Argentinië het in 2008 die eerste keer aan die NAMPO Oesdag deelgeneem – wat intussen gegroei het tot ‘n Argentynse paviljoen.
- ‘n Samewerkingsooreenkoms is in 2010 gesluit met Expoagro, ‘n opelug landboutentoonstelling soortgelyk aan die Oesdag, wat jaarliks in Argentinië plaasvind.
- Die groeiende belangstelling deur oorsese uitstallers het in 2010 gesorg vir ‘n groot afvaardiging vanaf Argentinië, sowat vyf Amerikaanse uitstallers en nuwe produkte uit Australië wat uitgestal is.
- Vanaf 2011 het besoekersgroepe uit Afrika begin posvat.
- Teen 2012 het gekombineerde uitstallings vanuit Amerika en Argentinië deel gevorm van die oorsese uitstallers, met individuele uitstallers uit Pakistan, Brasilië, Italië en Denemarke.
- Meer as 45 internasionale uitstallers was teen 2013 by die Oesdag betrokke.
- Internasionale afvaardigings van die volgende lande is in 2014 geakkommodeer: Amerika, Argentinië, Brasilië, Denemarke, Frankryk, Hongarye, Italië, Israel, Indië, Kanada, Oekraïne, China en verskeie Afrikalande.
- Nagenoeg 60 internasionale uitstallers uit nege lande het in 2015 aan die Oesdag deelgeneem.
7. Insetverskaffers bewys steun en vertroue
- Talle nuwe geboue is in 1982 deur uitstallers ingewy:
- NAMPO Shell-inligtingskompleks (kantoorgeriewe, persgeriewe en ‘n polisiestasie)
- Malcomess se moderne gebou op hul standplaas
- Ford se opleidingsentrum vir werknemers op hul standplaas
- International Harvester
- Natuurgroei
- Mobil museum (huisves trekkers en implemente wat tot 1917 terugdateer)
- Bayer SA
- Vetsak
- Hallo daar...Mielie/Maize (voorganger van SA Graan/Grain) berig in April 1982 dat telefoongeriewe by 15 standplase beskikbaar gestel is. Na ‘n tydelike selfoontoring in 1996 gesorg het vir selfoonverbindings, het MTN en Vodacom in 1997 ‘n permanente toring op die terrein opgerig.
- Demonstrasie-proefwerk van verskeie instansies en maatskappye is vanaf 1983 op die terrein gevestig.
- Die Trek-toegangshekke is in 1983 in gebruik geneem. Die hekke het verseker dat besoekers vinnig die terrein kon betree. Die hekke word vandag nog deur Engen geborg en beman.
- Teen 1983 is permanente uitstalruimtes op standplase van meer as R1,5 miljoen opgerig en nuwe gebou ter waarde van R500 000 is jaarliks tot die terrein toegevoeg.
- Die immergewilde Graan SA/Omnia Boerepatentekompetisie is in 1988 begin en word vandag steeds op Omnia se standplaas aangebied.
- In 1996 is die Roodebank Saadkompleks ingewy. Nuwe geboue is ook opgerig deur Staalmeester, Interlov, Sanvet, Pumpmaker en Mercedes-Benz.
- Vooraf verkope van toegangskaartjies is sedert 2006 ingestel. Dit was tot 2014 beskikbaar deur uitgesoekte Engen-depots en Senwes-handelswinkels, totdat daar in 2015 na ‘n aanlyn elektroniese kaartjiestelsel met behulp van TicketPro oorgeskakel is.
- Die landboubesighede NWK, Senwes en Suidwes – al drie jarelange uitstallers – het elk hul 100ste bestaansjaar tydens die Oesdag in 2009 gevier.
- Graan SA Radio, ‘n radiostasie wat uitsaai tydens die duur van die Oesdag, het in 2012 die lig gesien. Dit word bedryf deur OFM Stereo en hou luisteraars op hoogte van verkeersvloei, gebeure op NAMPO Park, handelsnuus en aktuele landboukundige inligting.
- ‘n Ploegkompetisie (as deel van die Wêreld Ploegkompetisie) is vanaf 2013 - 2015 deur Graan SA in samewerking met Tubestone aangebied.
- Verskeie saadmaatskappye neem deel aan saadplotte wat in 2015 op die nuwe deel van die terrein gevestig is. Die toevoeging gee Oesdaggangers die geleentheid om verskaffers se kultivars in praktiese produksieomstandighede te bekyk en te vergelyk.
8. Oesdagterrein se fasiliteite is deurlopend ontwikkel om tred te hou
- Die Fanie Ferreira-saal (vernoem na die eerste voorsitter van NAMPO) met bedieningsruimte vir meer as 1 000 mense op ‘n spesifieke tydstip, is danksy ‘n borgskap van Total, in 1983 in gebruik geneem.
- ‘n Veekompleks, wat verskeie groot- en kleinveerasse én perde insluit, is in 1983 gevestig. Die vee-uitstalling het oor die jare ontwikkel in ‘n verteenwoordigende blik op meer as 90% van rasse of veegenootskappe.
- Vanaf 1983 is voedsel ook by ander punte op die terrein voorsien.
- Wegneemetes is vanaf 1984 op ‘n groter skaal ingestel.
- ‘n Aanloopbaan vir ligte vliegtuie en helikopters – met ‘n bemande beheertoring tydens die Oesdagweek – is vanaf 1999 op die terrein gevestig.
- ‘n Ligte vliegtuig word al vir ‘n hele aantal jare ingespan om die verkeer te monitor en verkeersverslae beskikbaar te stel.
- Elektrisiteit word sedert 2000 grootmaat vanaf Eskom aangekoop en verspreiding op NAMPO Park word self gedoen. Watertoevoer en -verspreiding, riolering en vullisverwydering word ook self hanteer. Die Oesdagterrein funksioneer dus soos ‘n dorpie op sy eie.
- ‘n 4x4-hindernisbaan is in 2000 op die terrein ontwikkel. Verskeie fabrikate 4x4-voertuie word onder praktiese toestande vertoon. Die baan is weer in 2008 opgegradeer.
- Die NAMPO Elite bul- en ramveiling is vanaf 2001 in die veilingskompleks aangebied, maar is in 2006 gestaak aangesien dit nooit die standaard bereik het wat kenmerkend aan die Oesdag is nie.
- Water-afleivore is in 2002 aangebring om die afvloei van water te verbeter en om van die standplase met dreineringspype droog te lê.
- ‘n BBP-ontvangslokaal is betyds voltooi vir die Oesdag van 2002.
- Die eerste fase van die 8 000 m2-uitbreiding van uitstalruimtes by die suidelike parkeerarea – asook die skep van ‘n nuwe parkeerarea aan die suidekant van die terrein – is gedurende die Oesdag van 2013 in gebruik geneem.
- ‘n Ledelokaal vir uitsluitlike gebruik van Graan SA se volopbetaalde lede, is in 2006 op die terrein ingerig. Die lokaal is in 2014 na die ou Klub 200-gebou verskuif aangesien dit nader aan die lede-parkeerarea geleë is en beter fasiliteite bied om gaste te ontvang.
- ‘n Gratis trekker-en-waentjie-vervoerstelsel met vasgestelde roetes op die Oesdagterrein is in 2015 ingestel om vervoer dwarsoor die terrein te vergemaklik.
- Tans beslaan die beskikbare onderdak-uitstalruimte 17 060 m2 en die buite-uitstalruimtes trek die skaal op 170 630 m2.
9. NAMPO Park ‘n gewilde venue
Die tuiste van Graan SA se NAMPO Oesdag, sedert 2003 bekend as NAMPO Park, is ‘n gewilde bestemming reg deur die jaar vir konferensies, kongresse, bekendstellings en ander geleenthede. Graan SA se kongres word jaarliks hier gehou. Akkommodasie is ook op die terrein beskikbaar.
In hulle eie woorde
“Om die eerste Oesdag te organiseer het bloedsweet gekos. Trekker- en implementvervaardigers moes oorreed word om tog deel te neem. Uiteindelik het ses of sewe trekkermaatskappye ingestem, asook nog twee of drie ander uitstallers waarvan Lister een was. Eindelik het Lister die kragopwekker vir krag op die Oesdag voorsien.” – Hannes van Wyk, een van die Oesdag-pioniers.
“Ek vertrou dat die Oesdag nog eendag wêreldberoemd sal raak soos die blommefees van Holland, die Rynfeeste van Duitsland en Windhoek se karnaval.” – Die eertydse direkteur van SAMPI, dr Willie Kotze, in 1967 na afloop van die heel eerste Oesdag.
“Wanneer jy aan mense terugdink, is dit altyd moeilik om iemand spesifiek uit te sonder. Dit is egter onmoontlik om nie die drie musketiers van Bloemfontein, Moos Haddad, Hannes van Wyk, George Stegmann en hul gades, te vermeld nie. Hulle was dié met die groot idee (van ‘n Oesdag) in 1966.“ – Dennis von Abo, Oesdagdirekteur; 1983.
“Verskeie aansoeke van uitstallers vir die oprigting van permanente geboue is ontvang. Dit beklemtoon die neiging van ‘n meer permanente aard van uitstallings op die terrein.” – Callie van Wyk, Oesdagvoorsitter; 1983.
“Die Oesdag is een van daardie gebeurtenisse wat ‘n mens nie durf misloop nie, want oor drie dae is dit waar alles op die gebied van die landbou gebeur.” – Japie Grobler, voorsitter van NAMPO; 1996.
“Dit is veral vir ons insetverskaffers en vertoners waarvoor ek baie dankie wil sê. Hulle is jaar na jaar die lewensbloed van die Oesdag. Groot uitgawes word deur hulle aangegaan om miljoene rande se landboutoerusting en diere na die Oesdag te bring.” – Bully Botma, Oesdagvoorsitter; 1996.
“Ons sal daarteen moet waak om nie toe te laat dat die Oesdag in ‘n vlooimark ontaard nie. Die doel van die Oesdag is om aan insetverskaffers die geleentheid te gee om op ‘n persoonlike basis met ons boere kontak te maak en sodoende die jongste tegnologie op die gebied van landbou aan hulle oor te dra.” – Giel van Zyl, hoofbestuurder van NAMPO; 1996.
“Vanjaar – en in die toekoms – sal die klem egter steeds val op landbou- en landbouverwante uitstallers. U is ook reeds bewus van ons uitgangspunt dat ons nie getalle, hetsy besoekers of uitstallers, najaag nie. Die NAMPO Oesdag is en bly ‘n besigheidsgeleentheid, waar ‘n platform geskep word vir insetverskaffers en produsente ten einde ingeligte produksie- en aankoopbesluite te neem.“ – Vic Mouton, Oesdagvoorsitter, tydens ‘n perskonferensie in 2002.
“Die algemene terugvoer van uitstallers is dat die volume besigheid gedoen bo verwagting is en in baie gevalle selfs die vorige jare se syfers oortref. Eweneens is die terugvoer van besoekers spontaan positief oor die hoë standaard van uitstallings en van die terrein.” – Jub Jubelius, Oesdagvoorsitter; 2006.
“Graan SA se NAMPO Oesdag maak ‘n ander wêreld vir ‘n mens oop. ‘n Produsent se behoefte en fokus op sy plaas is elke jaar anders en onder hierdie groot Oesdag-sambreel is daar iets om elke produsent se spesifieke behoefte jaarliks te bevredig.” – Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter; 2012.
“Graan SA skep deur die Oesdag ‘n baie goeie netwerkgeleentheid vir alle rolspelers in landbou. Dit bied ook die ideale kans om landbou se storie aan die publiek en nielandboukenners te vertel. Die innovasie en nuwe tegnologie wat in samewerking met insetverskaffers op een terrein ten toon gestel word, is ‘n pluspunt. As jy dus tegnologies wil bybly, is Graan SA se NAMPO Oesdag die plek om te wees.” – Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA; 2012.
“Die tafel is nou gedek vir aktiewe dialoogvoering by die NAMPO Oesdag. Ek vertrou dat die Nasie in Gesprek-forum, soos wat Senwes, Graan SA en vennote tydens NAMPO 2013 aangebied het asook ander gesprekvoering oor tegniese aspekte, vorentoe selfs meer waarde tot die landbou gaan toevoeg.” – Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA; 2013.
“Die infrastruktuur op NAMPO Park is oor jare geskep en uitgebrei om ‘n groot getal besoekers met gemak te hanteer en om uitstalgeriewe van ‘n hoë standaard aan uitstallers te kan bied. Selfs die aanloopbaan kon vanjaar ‘n totaal van 365 vliegtuie en helikopters oor die vier dae gemaklik hanteer. Graan SA is gerat om aanstaande jaar die 50ste NAMPO Oesdag met trots aan te bied.” – Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter; 2015.
“Buiten dat die NAMPO Oesdag wêreldwyd vir Suid- Afrika ongelooflike goeie reklame meebring, is dit ‘n absolute noodsaaklike gebeurtenis vir enige kommersiële boer. Dit is die plek waar jy alles bymekaar op een plek sien en aankoops besluite kan neem. Hier is ook ongelooflike netwerk geleenthede. Dit is die plek om te wees as jy in landbou is.” – Johan Loxton, bestuurder: Kommersiële Dienste van Graan SA; 2015.
GraanSA se Inligting. op webblad.