Energiedrankies is baie gevaarlik en baie ongesond- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Dié wondermiddel wat energie en fokus waarborg, is iets waaraan die meeste van ons gretig sluk, ondanks negatiewe berigte dat sommige van die byvoegings daarin dalk kan skade doen.

ʼn Meningspeiling deur die navorsingsmaatskappy Analytix Business Intelligence toon dat Suid-Afrika die land is met die hoogste inname van energiedrankies met ʼn hoë kafeïeninhoud. Meer as 6 miljoen Suid-Afrikaners bo die ouderdom van 15 jaar gebruik ten minste een energiedrankie per week. “Die inname van energiedrankies word toenemend ʼn mode onder jong Suid-Afrikaners,” sê Berna Harmse, voorheen president van die Vereniging vir Dieëtkunde in Suid-Afrika (VDSA).

   Die gesondheid van jou liggaam is jou verantwoordelikheid.- Suid Afrika

Kenners skryf dit toe aan die feit dat die vervaardigers van energiedrankies hoofsaaklik jongmense teiken en dit as ʼn leefstyldrankie bemark. Terwyl die uithouvermoë en verbeterde prestasie waarop geroem word, volgens kenners slegs te danke is aan die suiker en kafeïen daarin, is die fokus op jongmense kommerwekkend aangesien ʼn groeiende aantal Amerikaanse dokters reken dis gevaarlik vir kinders en tieners.

Dis ʼn drankie vir grootmense, wat nie vir swanger vroue, vroue wat borsvoed en mense met onderliggende gesondheidsprobleme bedoel is nie, waarsku kundiges. Alle verbruikers moet egter versigtig wees vir energiedrankies omdat dit bestanddele kan bevat wat gevaarlike newe-effekte kan hê ─ veral wanneer jy reeds met jou gesondheid sukkel. Onoordeelkundige gebruik en oningeligtheid gee dikwels aanleiding tot ʼn swetterjoel bykomende gesondheidsprobleme.

Hoewel die gebruik van energiedrankies soms gesondheidsprobleme kan wegsteek, affekteer die drankie tog ook die tande, die lewer, niere, immuunstelsel en hart en kan lei tot vetsug en diabetes. Van die gesondheidsgevare is die volgende:

  • Hartaanval: Energiedrankies veroorsaak dat die hartspier kragtiger saamtrek, wat kan lei tot abnormale hartritmes indien jy aan hartprobleme lei.
  • Hoofpyn en migraine: Dit is kafeïenonttrekkingsimptome.
  • Gevoel van angstigheid: Sommige mense ervaar dit wanneer energiedrankies met kafeïen ingeneem word. Groter dosisse kafeïen kan selfs aanleiding gee tot paniekaanvalle.
  • Slaaploosheid: Te veel energiedrankies kan slaaploosheid veroorsaak, wat weer trae denkvermoë tot gevolg het.
  • Tipe 2-diabetes: Die hoë suikerinhoud daarin kan mettertyd die insulienproduserende selle in die pankreas beskadig, wat tipe 2-diabetes tot gevolg kan hê.
  • Interaksie met medikasie: Sommige van die bestanddele daarin, byvoorbeeld ginseng, kan veroorsaak dat voorskifmedisyne nie effektief werk nie.
  • Verslawende effek: Indien jy verslaaf raak aan die kafeïen daarin gaan jy heel moontlik sukkel om jou dagtaak gedoen te kry sonder jou daaglikse energiedrankie.
  • Waaghalsige optrede: Jy kan bedwelm raak van die kafeïen daarin en kenners sê dat jy dan makliker gevaarlike risiko`s sal loop.
  • Bewerigheid en senuagtigheid: Senuagtige optrede, bewerigheid, irritasie en ʼn gebrek aan konsentrasie is simptome van ʼn oormaat kafeïen.
  • Braking: Die oorinname van energiedrankies kan lei tot braking, wat weer ontwatering tot gevolg kan hê.
  • Allergiese reaksies: Talle allergiese reaksies, van ’n gejeuk tot asemhalingsprobleme, kan ervaar word omdat energiedrankies baie verskillende bestanddele bevat waarvoor jy allergies kan wees.

Benewens hoë konsentrasies kafeïen en suiker, bestaan die meeste energiedrankies uit ʼn konkoksie van stimulante soos taurien, efedrien, guarana, ginseng en B-groep vitamiene wat letterlik jou kop kan laat draai. Daar is egter geen beperking op die aankoop daarvan nie. Boonop het die meeste van dié drankies geen waarskuwings op die etiket nie. Dinge soos dié laat kenners voel dat beter beheer nodig is oor die manier waarop dit bemark en verkoop word.

Energiedrankies is beslis nie iets waarop daagliks staatgemaak moet word nie, sê Berna. Sy waarsku dat dit met oordeel gebruik moet word. Indien jy dus volgende keer voel jy móét een drink, maak seker dit bedreig nie jou gesondheid nie deur te lees wat op die etiket staan en matigheid voor oë te hou. Terwyl dit jou dalk wakker en energiek laat voel, bly ʼn goed gebalanseerde dieet, voldoende oefening en ʼn goeie nagrus steeds die gesondste keuse.

Leef gesond- Wees gesond en dies gereeld jou liggaam nadat jy 'n professionele Gesondheidpraktisyn besoek het. 


Newsletter Subscribe