La Niña, die teenoorgestelde van El Niño.

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

LA NIÑA kan ook aanleiding gee tot tropiese siklone, soos die onlangse Eloise, sê prof. Francois Engelbrecht, klimatoloog van die Global Change Institute aan die Universiteit van die Witwatersrand. En, waarsku hy, die weer kan vorentoe nog stormagtiger raak.

Die goeie lente- en somerreëns wat tot dusver in Suid-Afrika geval het, is te danke aan die weerverskynsel La Niña, wat sedert Augustus verlede jaar in die Stille Oseaan ontwikkel het.

La Niña (die Spaans vir “klein meisie”) is die teenoorgestelde van ’n El Niño (“klein seuntjie”) wat gewoonlik lae reënval voorspel.

“Die see se oppervlaktemperature in die sentrale tot die oostelike tropiese Stille Oseaan beheer in ’n groot mate klimaatvariasies (soos reënval) in groot dele van die wêreld. La Niña is ’n weerverskynsel wat gepaard gaan met laer as normale seeoppervlak-temperature in die sentrale tot oostelike Stille Oseaan. Die laer watertemperatuur veroorsaak hoogdrukstelsels wat sirkulasiepatrone ontwrig, en gee dan deur 'n kettingreaksie wat bo die Stille Oseaan begin uiteindelik aanleiding tot meer gereelde laagdrukstelsels oor die binneland van Suid-Afrika, wat weer bogemiddelde somerreënval (Desember tot Februarie) vir die grootste deel van ons land kan bring,” sê Engelbrecht.

Die invloed van La Niña is gewoonlik die sterkste oor die noordoostelike gedeeltes van Suid-Afrika (Limpopo) en Zimbabwe, en bring dikwels wydverspreide reënval van Desember tot Februarie.

LEES MEER- El Niño Is Officially Here—Here's What You Need to Know

Die spesifieke verskynsel hou gewoonlik ook net een seisoen en raak alle dele van die land wat somerreën kry, maar het nie regtig ’n invloed op winterreënvalstreke nie.

“Die afgelope drie jaar was die gemiddelde reënval ondernormaal oor bykans die hele Suid-Afrika. En dan was daar die geweldige droogtetydperk van 2015-’16, as gevolg van die sterkste El Niño wat nog gemeet is.”

El Niño ontstaan wanneer laagdrukstelsels oor die warmer water van die tropiese Stille Oseaan vorm wat dan sirkulasiepatrone wêreldwyd ontwrig. Dit veroorsaak hoëdrukstelsels in Suid-Afrika in die somer wat reënval onderdruk.

Engelbrecht sê die huidige La Niña-verskynsel gaan Suid-Afrika se klimaat tot en met herfs beïnvloed, maar sal dan begin verswak.

Goeie nuus vir die Noord-Kaap
“Daar is aanduidings dat die Nood-Kaap, wat nou al vir jare onder erge droogte gebuk gaan, normale tot bogemiddelde reënval gaan kry vanaf Februarie tot April, te danke aan La Niña,” sê Engelbrecht.

Hoewel La Niňa hoofsaaklik goeie nuus is, bring dit ook meer as die normale risiko van tropiese siklone, veral oor die sentrale tot noordelike dele van Mosambiek asook Zimbabwe.  Ook die noordoostelike gedeeltes van Suid-Afrika is gedurende La Niña-jare meer geneig om swaar reënval te kry danksy tropiese lae en siklone wat oor Mosambiek inbeweeg, of wat direk oor Suid-Afrikaanse grondgebied inbeweeg, waarsku Engelbrecht. Tropiese sikloon Eloise is 'n voorbeeld van laasgenoemde.

Dié sikloon is op 16 Januarie vir die eerste keer ongeveer 1,000km oos van Madagaskar opgemerk. “Dit was toe ’n laagdrukstelsel in die Indiese Oseaan. In daardie deel van die wêreld waai die winde van oos na wes; daarom het die laagdrukstelsel van oos na wes begin beweeg in die rigting van Madagaskar,” verduidelik Engelbrecht.

Op 18 Januarie is die verskynsel geklassifiseer as ’n intense tropiese storm nadat dit baie energie gekry het uit die warm oseaan en waterdamp ingesuig het.

Die storm het die noordelike deel van Madagaskar in die vroeë oggendure van 19 Januarie bereik en swaar reën en vloede in Noordoos-Madagaskar veroorsaak.

“ 'n Interessante aspek is dat die meerdereid tropiese storms wat in die Indiese Oseaan vorm, dit nie regkry om oor Madagaskar te beweeg nie, omdat hulle dan afgesny is van die oseaan wat hulle bron is van energie en vog, en gevolglik verswak,” sê Engelbrecht.

In dié geval het die storm ook aansienlik verswak tot 'n laagdrukstel nadat swaar reën geval het. Maar toe, op 21 Januarie, het die storm dit reggekry om in die Mosambiek-kanaal in te beweeg.

“Dinge het toe vinnig gebeur. Bo die warm waters van die Mosambiek-kanaal het die stelsel weer genoeg energie opgebou om te intensifiseer en as ’n intense tropiese storm geklassifiseer te word. Dit het suidwaarts oor die Mosambiek-kanaal begin beweeg. Op 22 Januarie het dit die status van ’n tropiese sikloon bereik.

“In die vroeë oggendure van 23 Januarie is dit as ’n intense tropiese sikloon geklassifiseer, en het dit in die vroeë oggendure oor die land beweeg by Beira, Mosambiek. Terloops, dis wat die Amerikaners ’n kategorie 2-orkaan noem,” sê Engelbrecht.

Hy verduidelik dat tropiese storms en orkane geklassifiseer word op grond van die intensiteit van die windspoed wat hulle genereer.

Oor die algemeen genereer tropiese storms, soos die een oor Madagaskar, winde van 63km/h tot 118km/h.

“Dis wat ons noem stormsterk winde, soos dikwels deur weerdienste daarna verwys word. ’n Tropiese sikloon of kategorie 1-orkaan genereer windsnelhede van 119km/h tot 153km/h. Eloise het ontwikkel van ’n tropiese storm tot ’n tropiese sikloon en is geklassifiseer as ’n kategorie 2-orkaan. ’n Kategorie 2-orkaan genereer windsnelheid van 154km/h tot 177km/h,” verduidelik Engelbrecht.

“Teen die tyd dat hierdie storm toe Beira bereik het, was dit ’n weerstelsel wat absolute vernietiging gesaai het. Sowat 1,000 informele huise is vernietig en ongeveer 4,000 het groot skade opgedoen. In 24 uur het Beira 250mm reën gekry en was dit onder water.”

Die sikloon het aanhou suidweswaarts beweeg oor die suidelike gedeeltes van Mosambiek en het op Maandagoggend 25 Januarie oor Suid-Afrikaanse grondgebied inbeweeg toe dit Musina in Limpopo bereik het.

Die weerstelsel het teen daardie tyd weer verswak tot 'n tropiese laagdrukstelsel. Soos wat dit beweeg het, het dit baie reën in die Noord-Oostelike hoeke van Limpopo veroorsaak, soos by die Pafuri-kamp in die noorde van die Krugerwildtuin. Van daar het dit vinnig versprei, en groot gedeeltes van noord-oostelike Suid-Afrika het swaar reën gekry. Dit sluit ook Eswatini, die noordelike dele van KwaZulu-Natal en Kosibaai in. Al dié areas het in 48 uur 50mm tot 200mm reën gehad.

“Die stelsel het daarna verder weswaarts beweeg na Gaborone, Botswana, en tot en met 28 Januarie het ’n laagdrukstelsel oor Botswana bestaan. Die oorblyfsels van die tropiese sikloon het toe basies nog vog ingevoer vanaf die tropiese areas van Botswana en Suid-Afrika, en ’n groot wolkband het gevorm oor die westelike binneland," sê Engelbrecht. Die wolkband bestaan nou nog.

“Dis ’n buitengewone, besonderse reënvalgebeurtenis. So ’n wolkband hou gewoonlik vir so twee tot drie dae aan, maar dié wolkband bestaan nou al amper vir 14 dae en ons kry steeds reën daaruit. Alles dui daarop dat dit die naweek steeds daar gaan wees.”

Animasie van die week waartydens Eloise oor land beweeg het.
Eloise is uitsonderlik
“Wat sikloon Eloise uitsonderlik maak, is dat dit ’n suidwestelike baan tot in Suid-Afrika gevolg het,” sê Engelbrecht. “Siklone wat so ver suid beweeg, is raar en tropiese siklone beweeg gewoonlik eerder oor die sentrale gedeeltes van Mosambiek. Dit gebeur baie min dat die sentrum van ’n eks-sikloon [’n stelsel wat sikloonstatus gehad het] oor Suid-Afrika inbeweeg.

“Dis logies om the dink dat dat klimaatsverandering dit vir siklone moontlik maak om verder suid as normaalweg te beweeg in ’n warmer wêreld,” maar voeg dan by dat dit nie die eerste keer is dat so iets gebeur nie. In Desember 1984 het sikloon Domoina grootskaalse verwoesting gesaai in die Krugerwildtuin, Eswatini (destyds Swaziland) en KwaZulu-Natal.

“Die ooreenkomste tussen Domoina en Eloise is merkwaardig. Al twee het in dieselfde deel van die Indiese Oseaan ontstaan tydens La Niña-jare, en toe noord-Madagaskar getref. Daarna het dit ’n suidwestelike baan gevolg en uiteindelik oor die noorde van Suid-Afrika inbeweeg,” sê Engelbrecht.

Die grootste verskil is dat Eloise in die Limpopo-vallei afbeweeg en uiteindelik Botswana bereik het, terwyl Domoina suid gedraai het, oor die Krugerwildtuin beweeg het na Eswatini, en toe uiteindelik Richardsbaai in KwaZulu-Natal getref het.

“Hoewel Eloise verklaar is tot ’n kategorie 2-orkaan en Domoina tot ’n kategorie 1-orkaan, het dit Eloise na ’n Sondagskoolpiekniek laat lyk. Die winde was nie so sterk soos Eloise nie (vandaar die gradering), maar dit het baie meer gereën. Destyds het die Kosibaai-area in 48 uur sowat 950 mm reën gekry. Sowat 240 mense is dood in Suider-Afrika as gevolg van Domoina. Tot dusver is sowat 22 dood weens Eloise,” sê Engelbrecht.

Engelbrecht sê ons kan dié afleidings maak in terme van tropiese siklone en klimaatsverandering:

• As ons na statistieke van oor die wêreld heen kyk, insluitend die suid-westelike Indiese Oseaan, is daar 'n geleidelike toename in die aantal intense tropiese siklone (kategorie 3- tot 5-orkane), en dit is regstreeks aan klimaatsverandering te wyte;

• Ons sien ook 'n toename in intense tropiese siklone oftewel kategorie 3- tot 5-orkane;

• Soos wat die aarde warmer raak, kry ons hoër see-oppervlaktemperature verder suid in die Mosambiekkanaal, wat tot gevolg kan hê dat ons meer gereeld tropiese siklone kan kry wat suidwaarts beweeg.

• In Suid-Afrika moet ons besef daar bestaan 'n al hoe groter wordende moontlikheid dat 'n kategorie 3- tot 5-orkaan die suidelike gedeeltes van Mosambiek of die noordooste van Suid-Afrika kan bereik.

“Ek dink ons moet baie versigtig nadink in Suid-Afrika oor die moontlikheid dat ons wel getref kan word deur 'n kategorie 3- tot 5-orkaan, byvoorbeeld een wat inbeweeg oor Maputo of selfs Richardsbaai. Is ons voorbereid is daarvoor? Ek dink glad nie ons is nie,” meen Engelbrecht.