BLINK JAAR WINK VIR WYNDRUIWE- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die eerste oesskatting van die Suid-Afrikaanse wynbedryf dui op ʼn belowende 2021-wyndruifoes.

Volgens die bedryfsliggame Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -Stelsels (SAWIS) en Vinpro, is wynmakers en wingerdboukundiges positief oor die gehalte van dié oes.
In hierdie vroeë stadium word ʼn oesgrootte naby aan die 2020-oes van ongeveer 1,3 miljoen ton beraam.

“Die Desember-beraming is die eerste van vier oesskattings wat jaarliks uitgevoer word,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediensafdeling. “Indien die res van die groei- en rypwordingsfase glad verloop, kan die oes moontlik selfs ietwat groter as in 2020 wees, maar steeds laer as die afgelope tien jaar se gemiddelde oes.”

Goeie reënval help die wynbedryf

Goeie reënval gedurende die wintermaande het oor die algemeen in die Wes-Kaap voorgekom en damvlakke het goed gestyg. “Aan die begin van die groeiseisoen, middel September 2020, was die damme gesamentlik 98% vol – ʼn groot verbetering op die afgelope twee jaar,” sê Conrad.

Die Clanwilliamdam, wat ʼn besproeiingsbron vir die Olifantsrivierstreek is, staan tans op 90% teenoor 76% in 2019. In hierdie stadium is water nie ʼn probleem in die Oranjerivierstreek nie en grondprofiele is redelik versadig, maar die riviervlak is aansienlik laer as verlede jaar dieselfde tyd.

Die Klein Karoo het vanjaar beter watervoorsiening as teen die einde van 2019, maar word steeds erg deur die voortslepende droogte geraak, wat verdere reënval uit die Suid-Ooste onontbeerlik maak vir die streek om ʼn goeie oes te realiseer. In die Robertsonstreek kry meeste produsente hul water uit die Brandvleidam, wat voller is as verlede jaar, en die vooruitsig lyk ook meer rooskleurig vir produsente wat van bergafloopwater afhanklik is.

LEES MEERSuid-Afrikaanse wyndruifprodusente se finansies begin beter daar uit sien

Ysige lente vertraag groei

Die lente was meestal deur nat en koue toestande gekenmerk, wat tot vertraagde groei en uitdagings in terme van siektebeheer gelei het.

Sneeu was, byvoorbeeld, tot einde September op die pieke van die Matroosberge sigbaar. “Alhoewel dit homogeen voorgekom het, was beide bot en aanvanklike groei vertraag weens hierdie laer temperature,” sê Conrad. Veral teen die kusstreek het natter toestande die tydsberekening van siektebeheer uitdagend gemaak.

Beperkte rypskade het gedurende hierdie tyd in die besproeiingsareas voorgekom, maar grootskaalse rypskade langs die laagliggende dele van die Oranjerivier sal na verwagting ʼn noemenswaardige effek op die oes hê.

Blom en set was oor die algemeen goed en egalig, met enkele uitsonderings waar laer temperature hierdie fase uitgerek het, tesame met waarneembare ongelykhede. “Die kusstreek is aan die einde van Oktober deur stormsterk winde gepeper, maar weens die vroeë stadium van wingerdontwikkeling, was skade gelukkig beperk,” sê Conrad.

Wingerde haal nou in

Teen die einde van Oktober en begin November het wingerdgroei vinnig ingehaal in terme van lootlengte en blaargroei. Groeikrag is op hierdie stadium gemiddeld tot geil, met baie sylootontwikkeling weens koel toestande en gevulde grondprofiele, en produsente staan tans bont om hierdie vinnige wingerdgroei met gepaste lowerpraktyke te bestuur.

“In hierdie vroeë stadium vertoon wingerde se groeikrag, trosgetalle en -grootte positief,” sê Conrad. “Indien die omgewingstoestande gunstig bly en produsente die kapasiteit het om wingerdbestuurspraktyke tydig toe te pas, sal die bedryf waarskynlik in 2021 ʼn beter oes as in 2020 realiseer, met die uitsondering van die Oranjerivier- en die Kaap se Suidkusstreke, waar ryp, swak blom en set, onderskeidelik in hierdie twee streke voorgekom het.”

Wat van die surplus wyn in die wynbedryf?

“Ons is uiteraard dankbaar vir ʼn gunstige seisoen wat die belofte van uitsonderlike druif- en wyngehalte inhou,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Die Suid-Afrikaanse wynbedryf beywer homself opnuut daarvoor om ons hoëgehalte wynaanbod teen volhoubare pryse uit te bou.”

“In die lig van die huidige wynsurplus, asook ʼn aansienlike komponent van ongekontrakteerde wyn weens die alkoholverbod en beperkings op verkope in 2020, tesame met die nuwe oes wat inkom, het heelwat wyndruifprodusente wel proaktief ooreenkomste met vervaardigers van druiwesapkonsentraat gesluit, om ʼn gedeelte van die 2021-oes te verwerk en daardeur ʼn mate van stabiliteit te bewerkstellig. Dit is een van die maniere waarop die bedryf homself rig en stelselmatig begin herbou na hierdie uiters uitdagende jaar.”

“Dit gaan nog ʼn geruime tyd vir die bedryf neem om te herstel. Dit is egter bemoedigend om te sien dat die jaar-tot-datum-uitvoervolumes op dieselfde vlakke as 2019 gehandhaaf word, terwyl plaaslike verkoopsvolumes ook oor die laaste twee maande begin herstel het, wat natuurlik goeie nuus is vir ons bedryf wat steeds onder geweldige uitdagings gebuk gaan,” sê Rico.