Só kan Suid Afrika boere vir beter oeste beplan

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Met ál hoër insetkoste raak beplanning voor elke seisoen uiters belangrik.

Een van die groot foute wat Suid-Afrikaanse boere maak, is om die dikwels misleidende langtermyn- gemiddelde klimaat te gebruik vir beplanning. Neem dié vyf deurslaggewende faktore in ag. Wisselvalligheid is seker die bekendste kenmerk van Suider-Afrika se weer- en klimaatspatro- ne. Die term weer verwys na die huidige of korttermynstand van atmosferiese toestande. Die term klimaat dui meer op die geskiedenis van die weer of langtermynpatrone van die atmosfeer.

Die weer bestaan uit verskillende atmosferiese elemente soos reënval, temperatuur, lugvog, lugdruk, bewolktheid, sonstraling, atmosferiese wateraanvraag (evapotranspirasie), hael en wind. Klimaat is egter die manier hoe die geskiedenis van hierdie weerelemente uitgedruk of bereken word. Dit kan bestaan uit verskillende komponente, soos die langtermyngemiddelde (byvoorbeeld per maand, seisoen of jaar), die verwagte afwykings vanaf die gemiddelde, en die intensiteit van byvoorbeeld die reën- val (donderstorms of meer frontale, sagte reën) wat die doeltreffendheid vir landboudoeleindes bepaal. ’n Voorbeeld is die verspreiding van reënval oor die seisoene: Is dit ’n somer- of winterreëngebied of reën dit heeljaar?

Nog belangrike ontledings wat temperatuur betref, is die in- en uittreedatums van ryp, lengte van die groeiseisoen, die aantal hitte- of groeieenhede, koue-eenhede (belangrik vir sekere soorte vrugte en wintergrane) en die voorkoms van hittegolwe.

Die term klimaatsveranderlikheid beskryf die maatstaf van die “normale” variasie wat verwag kan word soos bereken van historiese rekords. Dit is interessant dat hoe laer die gemiddelde reënval is, hoe wisselvalliger kan dit ook wees. Die standaardafwyking, bereken as ’n persentasie van die jaarlikse langtermyngemiddelde reënval vir ’n plek soos Pof- adder in die Noord-Kaap, met ’n langter- myngemiddelde reënval van sowat 100 mm per jaar, is byvoorbeeld byna 70%. Vir Victoria-Wes, ook in die Noord-Kaap, met ’n reënval van 230 mm, is die standaardafwyking 45%.

Vir Trompsburg in die Suid-Vrystaat is die reënval 400 mm per jaar en die standaardafwyking ongeveer 39%. Vir ’n hoërreënvalgebied soos Vrede in die Noordoos-Vrystaat, waar die jaarlikse gemiddelde reënval ongeveer 650 mm is, is die standaardafwyking 25%. Dit beteken die reënval vir Vrede wissel van ongeveer 490 mm (25% onder die gemiddelde) tot 810 mm (25% bo die gemiddelde). Vir Pofadder is die verwagte wisselvalligheid in reënval van ongeveer 30 mm (70% ondergemiddeld) tot 170 mm (70% bogemiddeld) per jaar.

ROL VAN AARDVERWARMING Met aardverwarming en die gevolglike klimaatsverandering is die neiging nou dat die “normale” variasie ook begin verander, want die gemiddeldes begin verhoog of verlaag. Die afwykings word groter, en daar kan verskuiwings wees in die tyd van voorkoms van reënval- of temperatuurpatrone, soos dat reën of sekere temperature vroeër of later begin voorkom. Temperature oor die wêreld heen is besig om te styg. Dit het ’n uitwerking op ander weerelemente soos reënval, wind, lugvog en verdamping. Die groot onsekerheid bly egter hoeveel van die afwykings in die klimaat toegeskryf kan word aan klimaatsveranderlikheid (die normale variasie) en hoeveel aan klimaatsverandering. Net soos klimaatsverandering se effek nie ten volle verstaan word nie, word klimaatsvariasie (normale patrone) ook nie verstaan nie. Droogte of ondergemiddelde reënval is net so deel van die langtermynkarakter van die klimaat as natter tydperke. Om die waarheid te sê, droogte is in baie gebiede meer “normaal” as natter tydperke, maar die ervaring van droogte word beleef as baie nadelig en dit word dan geïnterpreteer as abnormaal.

DEURSLAGGEWENDE FAKTORE Heelwat bydraende of nuwe faktore verhoog die kwesbaarheid vir die landbou- en verwante bedrywe in Suid-Afrika (en wêreldwyd) ten opsigte van die klimaat. Selfs indien daar nie ’n bykomende effek van klimaatsverandering was nie, sou baie boere steeds kwesbaarder vir die uitwerking van normale klimaatsveranderlikheid wees. Klimaatsverandering verhoog egter dié kwesbaarheid.

1. KENNIS VAN DIE KLIMAAT . . . EN HOE LYK DIE “NORMALE” KLIMAAT? Baie boere weet nie hoe lyk die werklike klimaat van ’n gebied nie, of hulle het die verkeerde opvatting van wat die reeks toestande is wat kan voorkom, asook die intensiteit en lengte daarvan. Dit is eerstens verkeerd om die langtermyngemiddelde klimaat van ’n gebied vir beplanningsdoeleindes te gebruik. Veral in Suid-Afrika is die langtermyngemiddelde syfers uiters misleidend. Om werklik strategies te kan beplan, kan daar na die volgende gekyk word om die risiko te bepaal. Kyk na die ekstreme wat voorgekom het oor minstens die afgelope 30 tot 60 jaar, veral wat reënval betref.

Boere maak dikwels die fout om byvoorbeeld mielies te plant in ’n gebied met ’n langtermyngemiddelde reënval wat op die grens van marginale produksietoestande vir mielies is, naamlik 450 mm tot 500 mm. In hierdie gebiede, byvoorbeeld Hoopstad in die Vrystaat, kan daar seisoene wees met minder as 300 mm reën (in 1992 was daar net 234 mm), hoewel daar ook seisoene met baie hoë reënval was, soos in 1975-’76 toe 976 mm gemeet is. Wees dus bewus daarvan daar gaan jare wees met baie min reën wat misoeste kan veroorsaak. Agtereenvolgende seisoene van ondergemiddelde reënval word dikwels uit die oog verloor.

Dit is bekend dat daar in Suid-Afrika – asook wêreldwyd – agtereenvolgende jare is wat omtrent dieselfde reageer. Só was daar byvoorbeeld in byna elke dekade in die afgelope eeu droë jare agtereenvolgens, soos van 1982-’87, 1991-’96 en 2012-’2020. Nat tydperke het voorgekom in 1970-’76, 1988-’90, 1999-’2002 en 2008-’11.

Een jaar met ondergemiddelde reënval is nie ’n droogte nie. Net so kan een beter reënvalseisoen binne ’n droogtesiklus nie ’n droogte se uitwerking ophef nie. Dit is veral belangrik om dít in gedagte te hou met beplanning sodat daar nie in die “verkeerde” deel van ’n siklus uitgebrei of nuwe werktuie aangekoop word nie. Agtereenvolgende natter jare is dikwels nadelig vir beplanningsdoeleindes, want die droër seisoene word gerieflikheidshalwe vergeet en beskou as uitskieters “wat nie weer gaan gebeur nie”, en die natter seisoene word as die nuwe normaal beskou.

2. EFFEK VAN KLIMAATSVERANDERING TEENOOR DIE EFFEK VAN KLIMAATSVERANDERLIKHEID Eers as die klimaat (normale verwagte wisselvalligheid) begryp word, kan die bykomende effek van klimaatsverandering in berekening gebring word. Dit is gevaarlik om te beplan sonder om die klimaat te verstaan, want dan is die kans baie goed dat verkeerde besluite geneem kan word. Uit ontledings van veral reënval is die oorheersende faktor steeds die normale klimaatsveranderlikheid en nie klimaatsverandering nie. Droogtes wat ervaar word, is grotendeels “normaal”, hoewel klimaatsverandering ’n bydrae kan lewer. Historiese gegewens gegrond op wêreldwye en plaaslike reënvalpatrone toon dat daar byvoorbeeld méér intens droër toestande voorgekom het in die tydperk vanaf ongeveer 1900 tot 1950 as die afgelope 70 jaar. Die droogtes word egter nou dikwels intenser ervaar as gevolg van ander faktore.

3. ONREALISTIESE MIKPUNTE As die risiko reg bereken word, is dit belangrik om die regte mikpunte vir ’n seisoen te stel en die regte beplanning te doen. Dit is nie altyd maklik nie, maar daar is – na gelang van die geografiese ligging – reënvalneigings op langer termyn van agtereenvolgende natter of droër seisoene en selfs warmer en kouer seisoene. Tans word die mikpunte in die meeste gevalle dieselfde gehou vir alle seisoene, en dit is onrealisties. Hoewel daar binne natter groepe jare enkele droër jare kan voorkom en omgekeerd, soos byvoorbeeld wanneer El Niño of La Niña die siklus versteur, is dit onrealisties om konstant té hoë verwagtinge te hê. Een van die maniere om mikpunte te kan bestuur, is deur die grondwater te meet of veldtoestande te monitor en te bestuur en daarvolgens mikpunte vas te stel.

4. DIE VOORDELE ÉN KOSTE VAN TEGNOLOGIE Tegnologie is die een faktor wat gebruik kan word om die effek van klimaatsveranderlikheid én klimaatsverandering teen te werk. Voorbeelde is verbeterde waterbestuur, bewaringsboerdery en verbeterde genetiese materiaal. Daar is egter beperkings op die tipe en koste van tegnologie wat geskik is vir die produksiepotensiaal van ’n spesifieke produksiestelsel. Om duur werktuie te koop om graan te produseer in gebiede met ’n lae en wisselvallige reënval, tesame met grond wat nie ’n goeie waterhouvermoë het nie, sal nie noodwendig sukses beteken nie. Dikwels kan die uitgawes wat aangegaan word, nie verhaal word nie. Swak winsgewendheid is dan nie noodwendig die klimaat se skuld nie, maar eerder die gevolg van swak beplanning en onkunde.

5. VERANDERDE EKOSTELSELS OF GRONDOPPERVLAKTOESTANDE ’n Klassieke voorbeeld is die ontbossing van die Amasone in Suid-Amerika. Die groen, transpirerende oppervlakte word vervang deur bewerkte landerye wat dikwels braak lê. Die temperatuur van die gebied verander, asook die kwesbaarheid van die grondoppervlak vir water- en winderosie. Dit gebeur egter ook op ’n kleiner skaal op plase en in bewoonde gebiede waar afloop- en indringingspatrone versteur word. Dink byvoorbeeld aan stede waar daar in die verlede min dakke en paaie was en water maklik die grond kon binnedring. Vandag stroom die meeste water ná ’n reënbui na laaggeleë gedeeltes en veroorsaak vloede. Dit is een van die redes waarom meer vloede en veral vloedskade voorkom. Dit is dus uiters belangrik om klem te lê op bewaringsboerdery om die produksierisiko te verlaag.

GEVOLGTREKKING  Klimaat bly sekerlik een van die grootste risikofaktore vir landbouproduksie en winsgewendheid. Gebrekkige kennis van die klimaat en die werklike effek van klimaatsverandering, swak inligting oor die toestande wat “normaal” is vir ’n gebied, tesame met kortsigtige en onoordeelkundige besluitneming, veroorsaak dat die kwesbaarheid van landbouprodusente en verwante bedrywe aansienlik vergroot word.

* Mnr. Johan van den Berg is ’n onafhanklike landbouweerkundige.