Predasie onder die soeklig- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die afgelope dekade was een van die mees uitdagende tye wat die veebedryf nog moes hanteer.


Die impak wat die mynbedryf, regeringsgrond wat onbenut lê, onsuksesvolle programme om boere op plase te vestig en die verdeling van grond op die bestuur en beheer van predatore gehad het, was aansienlik.
Volgens ‘n verslag deur Predation Management SA (PMSA), het groter boerdery-eenhede ‘n realiteit geword en daartoe gelei dat baie mense wat in landelike gebiede gewoon het, na dorpe en stede verskuif het. Dit is vererger deur ‘n verlammende droogte in baie van die ekstensiewe boerderygebiede van die land waar kleinveeboerdery ‘n belangrike onderneming is en het daartoe gelei dat baie wild en vee weens hongersnood verlore gegaan het.

Die afgelope twaalf jaar het die lesse wat deur ervarings geleer is, sowel as die waardevolle inligting wat versamel is op die plase wat deur die PMSA gemonitor word, bewys dat opleiding van uiterste belang is om boere ingelig te hou.

Opleiding bemagtig boere ook met die voortdurende proses om nie net by predatore se optrede aan te pas nie, maar ook om vooraf-beplande bestuurstrategieë te implementeer om veeverliese te verminder.

Deur dié inisiatief van die PMSA kan boere nou terugkyk op die prestasies wat behaal is in die proses om plase te monitor, byvoorbeeld met die toets en evualuasie van bestuurstrategieë op ‘n jaarlikse basis. Die waardevolle inligting wat op die betrokke plase versamel is, plaas veeboere in ‘n baie beter posisie as ooit vantevore in terme van besluite oor die korrekte predasiebestuursprogram, gekombineer met die verskillende bestuurstrategieë vir ‘n spesifieke plaas.

Dit is belangrik om die uiters harde omstandighede in ag te neem wat veeboerdery oor die afgelopge vier tot vyf jaar moes hanteer, veral die weerstoestande en ernstige droogtes wat veeboere ervaar het. Die monitering van plase was ‘n voorbeeld van hoe predasiebestuurspraktyke aangepas moes word, asook van die nuwe uitdagings wat buite die grense van die plaas opduik. Die uitdaging was om ‘n stabiele predasiebestuursprogram in plek te hou, maak nie saak wat die impak van die droogte was nie. Stabiliteit in die uiterste omstandighede was die sleutelfaktor in terme van finansiële voordele en ‘n voortgesette winsgewende onderneming. Verliese weens redes anders as predasie was op baie hoër vlakke as wat verwag is, veral weens die impak van die droogte. Dooie karkasse het daartoe gelei dat aasdiere meer aktief was en dit het veeverliese vererger.

Die droogte het ‘n onvermydelike uitwerking gehad op ander diere wat nie normaalweg as predatore geklassifiseer word wat skade aan vee aanrig nie. Dié diere is deur die natuur en die skaarste aan kos gedwing om vee te vreet om te oorleef. Voorbeelde van sulke diere wat ‘n direkte invloed op veeverliese gehad het, is die bobbejaan, seemeeu, bosvark, die Kaapse jakkals, Afrika wildekat, swartarend, Marchelle arend en die grootste sondaar, die ratel. Dié diere bedreig nou ook die veebedryf en die uitdaging is om bestuurspraktyke en opleiding nog verder te verbeter.

Met al dié nuwe uitdagings wat die veebedryf in die gesig staar, bly die monitering van plase van strategiese belang om die inhoud van die opleidingsprogram en advies oor predasiebestuur te rig sodat dit altyd moontlik is om vee te beskerm én in goeie en gesonde biodiversiteit te belê.

Die PMSA se omvattende opleidingsprogram om veeboere, plaaswerkers en professionele predasiebestuurdeskundiges op te lei, het verskeie uitdagings tydens die uiterste droogtetoestande hanteer, met predatore wat hul optrede en jagvoorkeure voortdurend aanpas en sodoende groot skade aan vee aanrig.

Die monitering van plase deur die Nasionale Wolkwekersvereniging het ‘n kritieke rol gespeel om die doeltreffendheid van die verskillende bestuursmeganismes te evualeer wat boere by wyse van opleiding ingelig hou om die voortbestaan van hul vee en die boerderygemeenskap as ‘n geheel te verseker.