Besproeing inligting- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Besproeiing maak die verbouing van gewasse in droë streke moontlik deurdat opbrengsstabiliteit verhoog word.

In tye wanneer die temperature geweldig hoog styg, koel besproeiing die gewas af en water wat uit die grond verlore gaan deur verdamping en transpirasie uit die gewas word in die grondprofiel teruggeplaas. Besproeiing kan ook gebruik word om te verhoed dat gewasse vries in gevalle waar fratstemperature in die somer ervaar word.

Grond-, plant- en waterverhouding
Besproeiing kan slegs doeltreffend bestuur word deur die verhouding tussen die plant en sy omgewing te verstaan. Planteienskappe wat belangrik is sluit in die totale seisoenale waterverbruik, daaglikse waterverbruik, die tempo waarteen die plant ontwikkel en die plant se worteldiepte. Eienskappe wat die grond-, plant- en waterverhouding kan beïnvloed, is onder meer die grond se waterhouvermoë, die spoed van waterpenetrasie en die teenwoordigheid van verdigtingslae. Watergehalte en beskikbare water is ook belangrik.

Gewaswaterverbruik
Evapotranspirasie (ETC) of gewaswaterverbruik is die water wat uit die grond verwyder word deur verdamping en transpirasie deur die plant. By mielies word 20 - 30% van die ETC-waarde veroorsaak deur verdamping. Die res bestaan uit transpirasie. Die mielieplant se daaglikse waterverbruik word bepaal deur lugtemperatuur, humiditeit, windspoed en sonstraling.

Hou ook in gedagte dat die daaglikse waterverbruik van die mielieplant wissel, afhangend van die fisiologiese groeistadiums 

'n Besproeiingsbestuurder moet bewus wees van die langtermyn ETC-tendense, en moet ook die daaglikse ETC kan bepaal. Figuur 1 toon dat die hoogste waterverbruik tussen blaar twaalf- en die blasieverskyningsfase is en dit is krities dat die gewas nie tydens hierdie fases waterstremming ervaar nie.

Let daarop dat langer-groeilengte kultivars meer water sal gebruik as die ultra-kort mieliekultivars, maar langer groeiers het die potensiaal om meer te produseer as die hitte-eenhede en vog voldoende is. Dit kan moontlik die rede wees vir die verbeterde opbrengste van die langer kultivars in die 2014- en 2015-seisoene. Hierdie situasie kan tot normaal terugkeer as die komende seisoene se temperature meer normaliseer en reënval meer gereeld plaasvind.

Dit is krities belangrik om te beplan hoeveel water besproei gaan word. Onderbesproeiing sal 'n opbrengsverlaging tot gevolg hê en oorbesproeiing sal ook 'n negatiewe effek hê, wat die winsgrens per hektaar sal verlaag. Besproeiingsbestuur is die besluit oor wanneer en hoeveel om te besproei. Die besluit moet gebaseer word op die watervoorraad, die grond se waterhouvermoë, die penetrasietempo in die grond, asook die mielieplant se waterverbruik vir die spesifieke fisiologiese stadium. Maak gebruik van grondwatersensors en weerdata om daaglikse verbruik te voorspel.

Verder onttrek die mielieplant ook nie uniform water vanuit die totale diepte wat sy wortels strek nie. Meer water word deur die mielieplant uit die vlakker wortelsone onttrek as uit die dieper gedeeltes. Tot soveel as 40% van die onttrekte water is afkomstig uit die boonste 25% van die worteldiepte en tot 70% uit die eerste 50% worteldiepte .

Tydens die beplanningsfase moet genoeg leweringskapasiteit in plek gesit word om in die gewas se behoefte vir die seisoen te voorsien. Daarteenoor sal 'n te groot leweringsisteem onnodige oorbesteding van kapitaal wees.

Grondtekstuur
Gronde met 'n growwe tekstuur soos fyn sand, leemsand of 'n kombinasie van die twee het gewoonlik 'n beskikbare waterhouvermoë van minder as 124 mm per meter grond. Die toediening van minder as 13 mm op dié tipe gronde is ondoeltreffend, aangesien 'n groot gedeelte van die besproeiing verlore sal gaan. Tussen 13 en 19 mm water moet gereeld toegedien word.

Gronde met 'n medium tot fyn tekstuur het gewoonlik 'n waterhouvermoë van omtrent 150 mm per meter grond. As geen afloop plaasvind nie, kan tussen 19 en 33 mm water per besproeiing toegedien word. Hierdie grondtipes kan meer water stoor wat die produsent se skeduleringbuigsaamheid vergroot.

Besproeiingsisteme
In Suid-Afrika word die meeste besproeiingsmielies onder spilpunte verbou. Hierdie tipe besproeiing het 'n potensiële toedieningsdoeltreffendheid van omtrent 80 - 85%, vergeleke met vloedbesproeiing se 55%. Met die berekening van die hoeveelheid water wat deur die seisoen gepomp gaan word, moet hierdie doeltreffendheid in aanmerking geneem word.

Spilpunte kan makliker tot op 'n spesifieke diepte besproei en die tydstip wanneer besproei gaan word, is meer buigsaam. Daarom kan dié tipe besproeiing die volle voordeel van reënval benut. Stremming op die gewas kan ook makliker verhoed word.

Samevatting
Deeglike waterbestuur op besproeiingsmielies sal ekonomiese opbrengste, watervoorraadbewaring en beter watergehalte tot gevolg hê. ETC-skatting en gereelde grondwaterbepaling is van uiterste belang in die vooruitskatting van die hoeveelheid water wat neergesit gaan word en tydsduur wat besproei gaan word. Neem altyd die beskikbare watervoorraad en die besproeiingsisteem se leweringspotensiaal in ag.

Die gereelde onderhoud van besproeiingsisteme verseker maksimum doeltreffendheid. Die bestuur hiervan is slegs moontlik indien gereelde metings ingesamel word. Doeltreffende besproeiingsbestuur is slegs moontlik deur akkurate rekordhouding van waterbehoefte, die water wat toegedien is, asook die reënval by elke spilpunt  Monsanto