Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, het hierdie ope brief aan me. Thabi Nkosi, die nie-uitvoerende voorsitter van die Land Bank, op sosiale media gedeel. Suid Afrika

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, het hierdie ope brief aan me. Thabi Nkosi, die nie-uitvoerende voorsitter van die Land Bank, op sosiale media gedeel. Suid Afrika

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai- se brief 

Beste me. Thabi Nkosi, jou antwoord op ons Saai-veldtog om Land Bank se vernietigingstog deur die likwidasie van honderde boere te stop, het betrekking. Uit die boere se hoek lyk Land Bank na die argitek van sy eie probleme en ons is keelvol om te bloei oor jul swak besluite, ondoeltreffende bestuur en ideologiese posisionering in die landbou.

Toe Land Bank twee jaar gelede ter wille van “groter beheer van Land Bank se eie leningsboek” sonder waarskuwing op die laaste dag ’n tien jaar lange ooreenkoms met tussengangers beëindig het, het julle moeilikheid onder julle uitgehardloop. Julle het niemand kans gegee om daarop voor te berei nie, nie die boere wat nooit gekies het om Land Bank-kliënte te wees nie, nie die tussenganger-landboubesighede wat Land Bank se leenboek uiters doeltreffendheid bestuur het nie, en nie eers vir julself nie. Toe was die swak skuld op daardie boek ’n skamele 1% en minder. Nou is dit meer as 50% en dit groei daagliks.

Nou help dit nie Land Bank beroep hom op sy historiese rol en bydrae tot die landbou nie. Julle is nie meer dieselfde bank nie! Dit is juis omdat ons boere Land Bank se roemryke verlede ken en waardeer dat ons nou so teleurgesteld en kwaad is. Hoe kon julle die bank so misbaar maak? Jy praat self in begrippe soos “onderprestasie”, “Landbank se wanbetaling aan ons skuldeisers” en “nie aan mandaat voldoen nie”.

As die bank winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid voor sy “ontwikkelingsdoelwitte” en transformasie gestel het, was julle ook nie nou so diep in die moeilikheid nie. Dieselfde het met Denel, Escom en SABC gebeur. Dit is een van die belangrikste redes waarom Saai en soveel ander familiegebaseerde rolspelers die landboumeesterplan verwerp.

Dit help nog minder om lyste te maak van landbou-unies met wie Land Bank oor die afgelope paar maande gesprekke gevoer het. Is dit vir jou ook opvallend hoe gebrekkig daardie lys is? Met so ’n gekraakte fondasie sou ek nie te veel vertroue in die daaropvolgende herstelplan hê nie.

Maar sê tog, het julle dit in daardie vergaderings met ander landbou-organisasies bespreek dat Land Bank op só ’n groot skaal boere gaan sekwestreer? Wat was hul reaksie toe julle verduidelik waarom daar geen bankrot boere onder die valbyl kom nie, maar juis boere met baie meer bates as laste? Het Land Bank aan hulle verduidelik hoe daar te werk gegaan word as julle op ’n plaas aankom, hoe julle met slagofferboere, hul vroue en kinders praat, en dat daar aan die einde van jul proses niks van ’n boedel gaan oorbly nie as die fraksie wat jul skuld daarvan uitmaak, gedelg is?

As julle dit bespreek het – het julle hul ondersteuning daarvoor gekry? As dit nie bespreek is nie, hoe verduidelik jy waarom Land Bank dit verswyg het?

As julle met Saai as ’n nasionale netwerk van familieboere ook gepraat het, sou ons julle gewaarsku het dat ’n ontwikkelingsmandaat en ’n kommersiële mandaat nie uit dieselfde poel bedryf kan word sonder om jou mededingendheid prys te gee nie. Land Bank is trouens sodanig daardeur gekniehalter dat die bank se vermoë om as lopende saak aan te gaan, skipbreuk ly. Dit is presies wat die ouditeur-generaal in sy gekwalifiseerde verslag oor julle sê.

In Saai stem ons dus nie saam dat julle die belangrikste tekortkominge takel wat tot Land Bank se probleme aanleiding gegee het nie. Ons het ook met van die bank se finansiers en krediteure plaaslik en in die buiteland gepraat en hulle deel ons skeptisisme.

En asseblief, moenie die “inklusief en deursigtig”-snare so hard tokkel nie, want daar is duidelik geen sweempie daarvan in Land Bank oor nie. Land Bank is so ondeursigtig dat daar ná twee maande nie eers aan een op ’n lys van die eenvoudigste versoeke in ’n PAIA-aansoek voldoen kon word nie.

Die eerlike waarheid is dat Land Bank in ’n baie swakker skuldposisie is as enige van die boere en hul gesinne wat julle so genadeloos likwideer. Almal van hulle het baie meer bates as laste gehad, en veral werkbare alternatiewe planne. Waarom moet Land Bank nie dieselfde medisyne kry wat hy so mildelik uitdeel nie?

As ’n mens kyk na hoe Land Bank op ons boere se plase tekere gaan, na die gedrag van jul verteenwoordigers en die verwoesting van boedels, besighede en gesinne, verstaan ons nie hoe enige instansie verder iets aan julle sou wou leen nie. Dit is ook te laat om julle van daardie verfoeilike optrede te distansieer, want in Land Bank se ondersoek wou julle geen fout daarmee vind nie. Land Bank se “deursigtigheid” strek ook nie ver genoeg dat julle vrywillig die verslag van die ondersoek in die openbare domein plaas nie.

Hoe verduidelik jy dat daar geen swart boere is wat so aggressief gelikwideer word nie? En hoe maak dit sin dat daar ook geen bankrot boere op daardie lys is nie; almal skuld Land Bank maar ’n fraksie van die waarde wat julle so verwoes? En hoe het die beslaglegging op ’n huilende dogtertjie se speelgoed Land Bank gehelp in jul strategie om lewensvatbaardeer te word?

Nee, jou argumente vlieg nie. Land Bank speel lankal nie meer ’n konstruktiewe rol nie. Julle het nie meer die vertroue van die boere, of die kundigheid, ervaring en baanrekord wat nodig is om weer op koers te kom nie.

Dr. Theo de Jager is die voorsitter van Saai. 


Newsletter Subscribe