Ivermektien word teen wurms, luise en ander parasiete gebruik. Die molekule werk op ’n baie interessante manier.
Net soos in ’n sportspan, moet die verskillende selle in ’n wurm of ’n luis se liggaam met mekaar kommunikeer sodat hulle saam kan werk – daarsonder sal elkeen van die luis se bene in sy eie rigting loop en sal die arme luis nêrens heen kan gaan nie! Lede van ’n sportspan praat met mekaar, maar binne ’n mens of ’n dier se liggaam gebeur kommunikasie deur spesifieke chemikalieë wat tussen selle rondgestuur word, amper soos briewe. En ivermektien buit juis hierdie kommunikasiestelsel uit: Hy maak dit onmoontlik vir die verskillende dele van ’n wurm of ’n ander parasiet om met mekaar te praat, deur ’n stof met die naam Gaba (gamma-Aminobutyric acid) te blokkeer. Die gediertetjies kan dus nie op ’n gekoördineerde manier beweeg nie. Hulle word effektief verlam en sterf van die honger.
Ivermektien word gebruik in pluimvee en ander plaasdiere, asook in honde en perde, en in sommige lande ook in mense, om parasietinfeksies teë te werk. Werweldiere en mense het ook Gaba as ’n kommunikasiemiddel, maar die enigste selle wat Gaba gebruik om te kommunikeer is in ons brein, en gelukkig het ons ’n bloedbreinversperring wat vermy dat ivermektien teen ’n gewone dosis binnedring en ons affekteer.
Die regulerende liggaam wat medisyne in Suid-Afrika registreer, bekend as die South African Health Products Regulatory Authority (SAHPRA), het in ’n verklaring (van 6 Januarie) gesê hulle keur dit nie goed vir algemene menslike gebruik nie, maar ivermektien word wel aan mense gegee in die behandeling van tropiese siektes wat nie in Suid-Afrika voorkom nie, asook in gevalle wat myte (skabies / jeuk- of brandsiekte), lyfluise of kopluise iemand baie siek gemaak het. My vrou, ’n mediese dokter, het dit bevestig. Op 28 Januarie is baie beperkte menslike gebruik goedgekeur onder Afdeling 21. Dit is dus nie giftig nie?
Juis as gevolg van die bloedbreinversperring waarvan ons nou net gepraat het, kan die meeste gesonde mense ’n dosis van ivermektien wat lyfluise doodmaak, weerstaan. Maar feitlik enige medikasie kan giftig wees teen die verkeerde dosis of met oorgebruik, of indien ’n individu sensitief is vir die stof.
Maar jy praat nou van parasiete. Covid is egter ’n virus ...?
Jy is heeltemal reg. COVID-19 word veroorsaak deur ’n virus. En virusse is nog kleiner as ’n enkele sel, so hulle hoef nie te kommunikeer nie. Hier is nou ’n fassinerende ding: Virusse dring mense en diere se selle binne, tot diep in die sel, en kaap dan effektief die fabriek binne die sel wat selonderdele vervaardig om dié wat met die loop van tyd beskadig word, te vervang. Die virus gebruik die sel se onderdelefabriek om meer viruskopieë te maak.
In laboratoriumstudies op selle (ons noem dié studies in vitro- of proefbuisstudies omdat hulle nie op lewende mense of diere gedoen word nie) het navorsers gevind dat ivermektien teen ’n relatief hoë dosis die koronavirus wat COVID-19 veroorsaak, boei. ’n Geboeide virus kan nie die sel se fabriek binnedring nie, dus kan die virus nie so maklik vermenigvuldig nie. Ons weet ook dat mense met ’n hoër viruslading gewoonlik sieker is as mense met ’n laer viruslading, daarom het wetenskaplikes begin ondersoek instel na die moontlikheid dat ivermektien kan help om die erns van COVID-19 te verminder deur die tempo van vermenigvuldiging in ons liggame te verminder.
Jy het netnou gesê: “Maar feitlik enige medikasie kan giftig wees teen die verkeerde dosis of met oorgebruik ...” Een van die verskaffers van ivermektien, ’n maatskappy met die naam Merck and Company, waarsku self dat die dosisse wat nodig sal wees om COVID-19 moontlik teen te werk, veel hoër is as enige iets wat tans as “veilig” beskou word. Hoe weet ons wat is veilig?
En daar slaan jy die spyker op die kop. Voor ’n geneesmiddel goedgekeur en geregistreer kan word vir gebruik in ’n nuwe spesie, moet toetse gedoen word om te bepaal teen watter dosis die middel giftig begin raak. Daar is korttermyn- sowel as langtermyn-effekte, onder andere nierversaking en lewerversaking, waarvoor dokters en veeartse op die uitkyk is wanneer hulle die veilige dosis bepaal.
Ivermektien is effektief teen parasiete soos luise en wurms teen ’n redelik lae dosis, omdat hulle baie sensitief is vir die middel. Ongelukkig lyk dit of die hoeveelheid wat mense moet inneem om die voortplanting van die koronavirus betekenisvol te verminder, veel hoër is, en dit beteken daar is ’n kans dat die middel teen die effektiewe dosis skade kan doen. ’n Kliniese studie is die enigste manier om seker te wees dat ’n middel veilig is teen ’n sekere dosis.
Ek wil net verstaan: Ivermektien word dus toegedien aan diere (en in erge gevalle mense) ná die pasiënt reeds besmet is met parasiete? Of kan dit voorkomend ook aangewend word om parasiete te keer?
Ivermektien is nie ’n afweermiddel nie. Luise en wurms moet nog steeds byt om geaffekteer te word. Dus ja, ivermektien is ’n behandeling vir besmetting. Maar soms is die besmettingsvlak so laag dat die dier geen simptome toon nie. In dié geval kan ivermektien vermy dat die parasiet voortplant, en ons praat dus daarvan dat die middel infestasie kan voorkom. Maar dis nie rêrig waar nie. Ivermektien voorkom net ’n situasie waar die parasietlading so swaar word dat die mens of dier siek begin voel.
Infeksie beteken enige hoeveelheid van iets in jou liggaam. Besmetting, of infestasie, beteken jy word heeltemal daardeur oorval. Omdat ivermektien nie ’n afweermiddel is nie, maar die vermenigvuldiging kan vertraag, kan dit nie infeksie voorkom nie, maar dit kan help om die risiko van ernstige besmetting te verminder.
LEES DIE VOLLE BERIG OP DIE SKAKEL BO-