Vergoeding aan Zimbabwiese boere is steeds onseker

Vergoeding aan Zimbabwiese boere is steeds onseker

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

As jy vra hoe dit nou in Zimbabwe gaan, is die boere se antwoord altyd dieselfde: “Dinge is moeilik, maar hierdie jaar gaan ons groot ommekeer kom!” Elke jaar.

Dit is nou 23 jaar nadat Mugabe se Zanu PF begin het om wit boere brutaal van hulle plase af te jaag, en amper drie jaar nadat die Global Compensation Deed met landbou-organisasies geteken is. Daarvolgens het Zanu PF erken dat hy vergoeding aan die boere verskuldig is en hom tot ’n afbetalingsreëling verbind, maar nog niks het gerealiseer nie. As verteenwoordiger van meer as 500 familieboere wat in Zimbabwe geboer het of steeds daar boer het Saai aksie geneem om die druk op die Zimbabwiese regering te verhoog.
Op Maandag 6 Maart is ‘n vergadering gehou met ambassades in Pretoria om groter bewussyn te skep van die lot van onteiende boere en om hulle op hoogte te bring van die nuutste aanbiedinge van die Zimbabwiese regering om vergoeding te betaal. Dit is opgevolg met ‘n mediakonferensie waar ook die aanloop en huidige stand van regsaksie teen die Zimbabwiese en Suid-Afrikaanse regerings deur Willie Spies van Hurter Spies Ing uiteengesit is.

Saai maak ook ‘n dokumentêre program oor die onteienings en die lang stryd om billike vergoeding aan families wat sedert 2000 van hulle plase afgesit is. Alhoewel die Global compensation deed in Julie 2020 aan boere aangebied is het die Zimbabwiese regering nooit in terme van die ooreenkoms presteer nie.

‘n Nuwe aanbod behels betaling in staatseffekte wat eers oor 14 jaar verdiskonteerbaar is en die meeste van Saai se Zimbabwe gebaseerde lede is nie daarvoor te vinde nie. Daar word wel sporadies klein bedrae deur die Zimbabwiese regering aan die mees kwesbare ou boere betaal om hulle met agterstallige doktersfooie en medisynerekeninge te help. Ongelukkig word hierdie hulp misbruik as ‘n pistool teen die kop van die breër boeregemeenskap met die dreigement dat dit tot ‘n einde sal kom as titelaktehouers nie die nuwe aanbod wil aanvaar nie. Vir hierdie doel stig Saai ‘n hulpfonds om vir daardie kwesbaarste boere uit ‘n alternatiewe bron te help om te oorleef.

Saai skep ook ‘n bellegingsinstrument vir Zimbabwiese titelaktes wat gebaseer is op die hoop vir billike vergoeding. Boere kan hulle titelaktes aan die beleggingsinstrument verkoop of dit vir eie voordeel daarin deponeer om aan die titelaktes en gepaardgaande eise ‘n langer lewe as hulle eie lewe te gee.