GEORGANISEERDE misdaad is ’n eksistensiële bedreiging vir Suid-Afrika se demokratiese instellings, ekonomie en mense.
En wat op die oog af na onafhanklike en uiteenlopende misdadige gebeure kan lyk, is in baie gevalle met mekaar verbind.
Dít is die ontnugterende eerste stelling van ’n verslag oor die mees omvattende ondersoek tot nog toe oor georganiseerde misdaad in Suid-Afrika.
Die Global Initiative Against Transnational Organised Crime (GI-TOC) se risiko-ontleding identifiseer drie strome in wat hulle Suid-Afrika se “self-sustaining, self-protecting and self-expanding criminal economy” noem. Eerstens die groei van georganiseerde misdaad, tweedens die opkoms van korrupsie onder die elites en derdens die uitholling van staatsinstellings.
Hierdie drie strome het mekaar in die verlede soms deurkruis, maar nou vloei al drie saam om ’n kragtige misdaad-onderwêreld met geleenthede te voed.
Die georganiseerde misdaad-onderwêreld bestaan uit 15 “onwettige markte” in drie breë kategorieë.
Tien van hierdie misdade is aan die toeneem en drie is “stabiel op ’n hoë vlak”.
1. ‘Verkoop die onwettige’
Dwelms (stabiel op ’n hoë vlak): Suid-Afrika het ’n groot plaaslike mark vir onwettige dwelms (hoofsaaklik heroïen, kokaïen en metamfetamien of meth), maar die land is ook ’n belangrike skakel in transnasionale dwelmnetwerke. Die handel in dwelms onderlê ook sekere vorms van staatskorrupsie, verhoog die kompetisie en geweld tussen bendes en bevorder die verspreiding van oordraagbare siektes.
Onwettige vuurwapens (stabiel op ’n hoë vlak): Histories is Suid-Afrika se onwettige vuurwapens oor grense hierheen gesmokkel, maar onwettige vuurwapens is nou oorwegend ’n binnelandse mark. Ten spyte van ’n hersiening van vuurwapenbeheer in 2000 het korrupsie, die herleiding van siviele en staatsvuurwapens en die wangebruik van wettige wapens die vloei van onwettige wapens aangehelp – die massiewe dwelmwinste olie die ratte van dié mark. Die grootskaalse beskikbaarheid van onwettige vuurwapens speel ’n deurslaggewende rol in georganiseerde misdaad – veral in die dwelm- en taxiwêreld, asook in die groeiende vraag na huurmoordenaars in ander misdaadsektore.
Mensehandel (stabiel): Hierdie is nie ’n groot mark in Suid-Afrika nie, maar die handel in mense vir gedwonge arbeid en seks vind wel plaas. Dit word deur korrupte grens- en ander staatsamptenare moontlik gemaak.
Wildlewe-, vis- en omgewingsmisdaad (neem toe): Ten spyte van vooruitgang op sekere bewaringsfronte neem misdaad in hierdie sektor só toe dat sommige spesies soos perlemoen, kreef, renosters en broodbome op die rand van uitwissing verkeer. Een van die redes hiervoor is dat dit ’n doeltreffende manier is om geld te was: kontant van dwelms en ander onwettige aktiwiteite word aan wilddiewe oorbetaal en dan word dit met wettige geld deur kopers uit China vervang. Die onwettige plundery van Suid-Afrika se stokvis vind op groot skaal plaas, terwyl sekere reptiele, vetplante, asook olifante, leeus en luiperds ook teikens van sommige misdaadsindikate is.
2. ‘Handel in geweld’
Afpersing (neem toe): Daar is ’n drastiese toename, asook “legitimering” van verskillende vorme van afpersing in Suid-Afrika. Spazawinkel- en nagklubeienaars, konstruksiemaatskappye en die vervoerbedryf word almal geteiken om geld, dienste en goedere te betaal in ruil vir “beskerming”. Dit ontlok vrees en geweld by plaaslike gemeenskappe en veroorsaak diep en ernstige ekonomiese en politieke skade. Nie net ondermyn dit die rol van die staat as die voorsiener van sekuriteit nie, maar dien ook as ’n ernstige afskrikmiddel vir potensiële beleggers.
Ontvoering vir ’n losprys en afpersing (neem toe): Hierdie kategorie het sedert 2016 sterk gegroei, alhoewel beskikbare data daarop dui dat slegs 5% van ontvoerings vir ’n losprys gedoen word. Transnasionale sindikate teiken ryk buitelanders, terwyl plaaslike na-apers binnelands werk. Slagoffers sluit kwesbare inwoners van informele nedersettings en immigrante in, asook prominente sakelui en hulle gesinne. Lospryse word “dienooreenkomstig gekalibreer”.
SAPD STATISTIEK - GEWELDSMISDADE OP PLASE Suid Afrika-
Georganiseerde rooftogte (neem toe): Transito-rooftogte, motor- en trokkapings, huis- en besigheidsrooftogte, asook veediefstal is reeds ongelooflik groot in Suid-Afrika en neem steeds aggressief toe. Hier is hoogs gewelddadige en traumatiese misdade wat burgers se gevoel van sekuriteit ondermyn en ’n groot impak op veral privaat besighede in die ekonomie het. Die verslag noem dit “een van die grootste bedreigings vir Suid-Afrika”.
Georganiseerde geweld (neem toe): Geweld raak al hoe meer “professioneel”. Die afgelope jare word “dodelike geweld” gebruik en dit het ’n algemene instrument van misdaadorganisasies geword. “Moord as ’n wapen” is nou grootliks genormaliseer. Huurmoordenaars kom van die taxi- en bende-omgewing, maar die evolusie van die tronk-nommerbendes (wat nou ook buite die tronk opereer) is ook ’n groot bron van professionele sluipmoordenaars. Sluipmoorde op fluitjieblasers en bende-ondersoekers het Suid-Afrikaanse wetstoepassing ’n erge knou toegedien.
3. ‘Plundering van kritieke dienste’
Kritieke infrastruktuur (neem toe): Suid-Afrika se infrastruktuur word deur georganiseerde diefstal kaal gestroop. Koperdiefstal word op ’n industriële skaal gepleeg en dit raak ook die vervoer-, energie-, water-, kommunikasie- en brandstofsektore. Dit het ook die staat se kapasiteit om dienste te lewer ernstig geknou.
Georganiseerde korrupsie (stabiel op hoë vlak): Korrupsie het ’n piek in die staatskapingsjare onder oudpres. Jacob Zuma bereik, maar die verskynsel bly diep gewortel. Dit ondermyn ons strafregstelsel, dienslewering, wis ekonomiese moontlikhede uit en plaas druk op sosiale samehorigheid. Dit verswak ook lewenstandaarde, moedig die breinkwyn aan en ontmoedig buitelandse investering.
Onwettige myne (neem toe): Die verbrokkeling van Suid-Afrika se formele mynsektor het ’n grootskaalse groei in onwettige mynwese tot gevolg gehad. Diamante, goud, platinum en chroom word deur smelters en sindikate in die onwettige transnasionale handel “ingewas”, wat die wettige bedryf miljoene rande aan verlore winste en bykomende sekuriteit kos. Dit het ook hoë vlakke van geweld, afpersing en moord tot gevolg.
Misdaad in die minibustaxibedryf (neem toe): Hierdie is die skakel van ’n wye verskeidenheid van onwettige aktiwiteite, insluitende afpersing, geldwassery, korrupsie en georganiseerde geweld. Twis tussen verskillende taxi-organisasies het baie moorde op bestuurders en onskuldige bystanders tot gevolg. Die taxibedryf, wat 65% van alle pendelaars vervoer, het tot dusver alle hervormingspogings in dié sektor weerstaan met massastakings en gewelddadige optrede teen kompetisie (treine, busse en so meer).
Misdaad in die gesondheidsektor (stabiel): Hierdie sektor word lank reeds deur korrupsie geraak, maar tydens die Covid-19-pandemie het dit veral in die staatsektor versnel. Grootskaalse bedrog raak ook die privaat sektor, waar dit in sommige gevalle op ’n baie georganiseerde manier bedryf word.
Kubermisdaad (neem toe): Hierdie raak ’n al hoe groter vorm van georganiseerde misdaad in Suid-Afrika en die land is nie daarop voorberei nie. Individue, privaat maatskappye en staatsorganisasies het al onder verskeie aanvalle deurgeloop waar nie net miljoene rande gesteel is nie, maar waar die voorsiening van internet- en infrastruktuurdienste ondermyn en sosiale en ekonomiese aktiwiteite ontwrig is.
Ekonomiese en finansiële bedrog (neem toe): Bedrog, geldwassery en die vervalsing van goedere is aan die toeneem en dit is ’n groot risiko vir die land se finansiële reputasie en die vermoë om georganiseerde misdaadgroeperings hok te slaan en belasting in te vorder. Toenemende korporatiewe bedrog het ook die potensiaal om persoonlike besparings en pensioengeld te verwoes en miljoene rande uit staatstenders te suig.
SA erger as Mexiko
Al het baie ander lande meer ontwikkelde en groter onwettige markte – soos die dwelmmark in Mexiko of wapensmokkelary in Irak – het min lande so baie onwettige markte oor so ’n breë spektrum soos Suid-Afrika, lui die verslag.
Hierdie “volwasse en diverse misdaadlandskap” word weerspieël in Suid-Afrika se puntetotaal in GI-TOC se globale georganiseerdemisdaad-indeks, waar ons net een van sewe lande is wat meer meer as sewe punte in vier verskillende tipes georganiseerde groeperings gekry het: mafia-tipe-groepe; misdaadnetwerke; staatsverskanste rolspelers; en buitelandse rolspelers.
Met ’n gemiddelde van 7,25 is Suid-Afrika hoër op die georganiseerdemisdaad-ranglys as Mexiko (7,13), Somalië (7,13) en Libië (7).
Misdaadentrepreneurs
Dwelms, afpersing en georganiseerde geweld is volgens die verslag drie groot “entrepreneursmarkte” in Suid-Afrika se misdaad-onderwêreld. Transitorooftogte vertoon ook buitengewoon hoë vlakke van ondernemerskap en beplanning.
Ná 1994 het bendes in Suid-Afrika al hoe meer strategies begin dink. Met die vooruitsig van buitelandse sindikate wat die mark ná die beëindiging van Suid-Afrika se apartheidsisolasie sou betree, het Wes-Kaapse bendes byvoorbeeld ’n oorkoepelende kartel, The Firm, gestig wat almal sou kon laat saamwerk om kompetisie te verminder, grootmaat-besendings te fasiliteer en die verspreiding van dwelms te beheer.
Dwelmbendes het ook oor die land heen begin saamwerk. So byvoorbeeld het die bendes van Gauteng en die Wes-Kaap ’n korridor geskep vir die uitruil van vuurwapens, dwelms en huurmoordenaars. In die oorgangsjare ná die einde van apartheid het Gauteng begin om Mandrax aan bendes in die Wes-Kaap te voorsien. Kaapse bendes het op hulle beurt kontak gemaak met bendes in Durban, wat die voorsiening van huurmoordenaars uit die Kaap moontlik gemaak het wanneer konflik daar opgevlam het. Hierdie interprovinsiale verbindings het misdaadnetwerke versterk.
Afpersingsnetwerke het weer aggressief in gebiede begin inbeweeg waar die teenwoordigheid van die staat swak of beperk was. Daar het hulle hulleself dan as die enigste vorm van “sekuriteit” gevestig. En soos wat hulle vastrapplek gekry het, het baie van hierdie netwerke hulleself as privaat sekuriteitsmaatskappye of sogenaamde “besigheidsforums” omvorm, waar hulle dan nuwe (onwettige) geleenthede in byvoorbeeld die konstruksie- of vervoersektore ontgin het.
Die georganiseerde geweldsmark is op sy beurt ’n uitvloeisel van die minibustaxibedryf. Luidens die verslag het “sluipmoordenaars wat aanvanklik deur taxi-organisasies gehuur is om roetes te beskerm en mededingers uit te haal, nou ’n gemonetiseerde hulpbron geword wat deur rolspelers en instellings in beide die onder- en bowêreld vir politieke en ekonomiese doeleindes gebruik word. Dit eggo ’n patroon wat ons onder apartheid gesien het”.
Geweld genormaliseer
Georganiseerde misdaad gedy in Suid-Afrika. Van die ernstigste gevolge uit ’n wye verskeidenheid van diepsnydende maatskaplike, ekonomiese en politieke letsels is dat geweld, wat nog altyd ’n buitengewoon groot rol gespeel het, nou onlosmaaklik deel geword het van die vinnig ontwikkelende misdaadekonomie in Suid-Afrika.
Ons natuurlike omgewing en kritieke infrastruktuur word onherroeplik vernietig en die “verskanste bendes en afpersingsnetwerke” probeer om ’n parallelle, gekriminaliseerde vorm van regering buite die invloed van die staat daar te stel.
Die slagoffers van georganiseerde misdaad word volgens die GI-TOC-verslag oor die hele maatskaplike spektrum heen gevind, maar diegene wat die heel ergste uitgelewer is, is uiteindelik die armste mense met die minste mag om hulleself daarteen te beskerm.
Anneliese Burgess
Mederedakteur
Anneliese Burgess is mederedakteur van Vrye Weekblad.