Skep só werk in die landbou

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Hoe lyk die toekoms vir werkgeleenthede in die graanbedryf? Gaan werkers oor die nodige kundigheid beskik om in die graan- en oliesadesektor in diens geneem te kan word? 

Voedselsekerheid is in nasionale belang en onoordeelkundige, politiekgedrewe beleidsvoorstelle het die potensiaal om dit te ontwrig. Dit kan ’n uiters ongunstige ekonomiese impak op Suid-Afrika hê. Sonder goeie beleidsvoorstelle en infrastruktuur is volhoubare produksie wat armoede verlig en voedselsekerheid bevorder, onmoontlik. Van die werkloses wat in diens geneem sou kon word met ’n vereiste ekonomiese groeikoers van 5% en meer, is 2% gegradueer, 8% het ander tersiêre kwalifikasies, 38% het matriek, en 51% het nie matriek nie. Die kundigheidsvlak van werkloses in Suid-Afrika ondersteun dus nie ekonomiese groei nie. Vergeleke met groei in ander bedrywe is groei in die landbousektor twee tot vier keer doeltreffender om inkomste onder die armste segment van ’n bevolking te verbeter. Snel tegnologiese vooruitgang

Die instituut vir toekomsnavorsing wys daarop dat die snel tegnologiese vooruitgang van die primêre produksiesektor op plaasvlak daartoe lei dat meer werkgeleenthede in die sekondêre landbousektor ná die plaashek in die voedselwaardeketting geskep gaan word. Dit lei daartoe dat immigrante (migrasiewerkers) toenemend op plase in diens geneem word, terwyl plaaslike arbeid verkies om te verstedelik of om in die waardeketting ná die plaashek om werk aansoek te doen. Nuwe tegnologiese ontwikkelings skep nuwe werkgeleenthede in die arbeidsmark, maar dié geleenthede gaan gespesialiseerde tegnologiese en wetenskaplik kennis vereis. Meer werkgeleenthede gaan in die landbouwaardeketting buite die plaashek geskep word en dit gaan meer aanvaarbaar vir die jeug wees.

Dit is daarom van die uiterste belang dat die Suid-Afrikaanse regering groter marktoegang op oorsese markte moet beding, dat infrastruktuur geskep word vir die landbou om ekonomiese groei te stimuleer, en dat sektore in die waardeketting voorwaarts en terugwaarts doeltreffend met die primêre produksiesektor skakel.

 Mnr. Jozeph du Plessis van Schweizer-Reneke, voorsitter van die sonneblom-en-sojaboonforum, sê die voorwaartse en terugwaartse skakeling met die primêre produsent in ander Afrikalande is gebrekkig. Die verwagting is dat die landbou werk moet skep, maar die owerheid moet sy rol vervul om te verseker dat die onderliggende infrastruktuur wat landbouproduksie en landbouhandel moet ondersteun, bevredigend is. Goeie infrastruktuur bevorder die terugwaartse en voorwaartse skakeling in die waardeketting met die primêre produksiesektor. Wat beperk geleenthede? Die landbousektor kan nie sy volle potensiaal bereik as die versperrings wat werksoekers verhinder om tot die landbou-arbeidsmark toe te tree, nie voldoende aangepak word nie.

Graandepotbestuurders en gradeerders gaan voortaan die geleentheid kry om krediete te verdien vir die jare lange ondervinding wat opgedoen is. Die geakkrediteerde kursus dien nou by die Suid-Afrikaanse kwalifikasie-owerheid (SAQA) vir finale registrasie. Die volgende stap is om opleidingsinstellings wat die kursus gaan aanbied, in te lig wat van hulle vereis word. Doelgerigte opleiding en kundigheid is noodsaaklik vir die doeltreffende hantering, gradering en opberging van die graan en oliesade van produsente en afnemers. Dit bevorder prysvorming en die ondersteuning van ’n doeltreffende vryemark, en bied aan personeel in die opbergingsektor ’n beter loopbaan.

Nuwe tegnologiese ontwikkelinge skep nuwe werkgeleenthede in die graan- en oliesadesektor. Dit is egter noodsaaklik dat werksoekers toepaslike opleiding kry.