Prysdruk bou op- Inflasie nog rustig- Suid Afrikaa

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

IN Mei vanjaar het iets gebeur wat ons nie aldag sien nie: Die hooflyn-verbruikersprysinflasiekoers in die VSA was 5% (van jaar tot jaar).

Dit was die vinnigste tempo van oorhoofse prysstygings in die VSA in amper 13 jaar. In Suid-Afrika was die ooreenstemmende inflasiekoers vir Mei 5.2%.

Dit is hoogs ongewoon dat die amptelike inflasiesyfer in die VSA en Suid-Afrika min of meer ooreenstem. Tussen die jare 2000 en 2020 was die gemiddelde jaarlikse verbruikersinflasiekoers in die VSA net meer as 2%. Oor dieselfde periode was die syfer vir Suid-Afrika 5.5%. Die historiese tendens vir die afgelope 20 jaar is dus dat inflasie in Suid-Afrika omtrent 3.5 persentasiepunte hoër is as in die VSA.

Insetkostes styg behoorlik
Die historiese syfers wys dat inflasie van meer as 5% in Suid-Afrika niks vreemds is nie, hoewel dit beslis hoër is as ’n syfer van nader aan 4.5% (of selfs laer) waaraan ons in onlangse jare gewoond geraak het. Die beleidmakers by die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) verkies dat die inflasiekoers nader aan 4.5% is.

Die 20-jaaroorsig beklemtoon dat dit eerder die VSA is wat op die oomblik ongewone prysdruk ervaar wat veel hoër as die historiese tendens is. Hoewel die Amerikaanse inflasiesyfers in onlangse maande aan die bokant verras het en moontlik in die tweede helfte van die jaar steeds kan, bly ek (soos in ’n vorige rubriek verduidelik) gemaklik met die siening dat die prysdruk wat ons nou sien nie ’n volhoubare periode van wesenlike hoër inflasie gaan inlei nie.

Dieselfde geld Suid-Afrika. Dit is belangrik om te onderskei tussen druk op insetkoste en pryse wat Jan en alleman op die winkelrakke sien (met ander woorde verbruikersinflasie). Daar is geen twyfel nie dat insetkoste, plaaslik sowel as internasionaal, teen ’n felle tempo toeneem. As ’n voorbeeld hiervan het die plaaslike produsenteprys-indeks vir intermediêre vervaardigde goedere in Mei teen ’n jaarkoers van meer as 15% opgeskiet. Die indeks sluit chemiese, rubber- en plastiekprodukte (+21.7% jaar tot jaar) in, asook sekere basiese metale soos yster en staal (’n toename van meer as 35% in Mei 2021 teenoor Mei 2020).

Dié kostedruk is ’n wêreldwye verskynsel wat in breë trekke verband hou met ’n kombinasie van Covid-gedrewe impakte op die wêreldproduksie van ’n reeks items. Verskaffingskettings is ook onder wesenlike druk. ’n Voorbeeld hiervan is opeenhopings by kernbelangrike Chinese hawens weens sluitings as gevolg van Covid-uitbrekings.

Die logistieke probleme kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Dit is op ’n tydstip waar die ongekende monetêre en fiskale aansporingsmaatreëls in veral die VSA, asook wydverspreide inentingsprogramme in vele ontwikkelde lande, tot ’n vroeër as verwagte en skerp herstel in die vraag na ’n reeks produkte gelei het.

Oorhoofs beskou herstel wêreldwye vraag vinniger as die tempo waarteen produksie en verskeping op die oomblik kan tred hou. Dit lei tot tekorte. Die uiteinde is hoër pryse.

Sal die skerp toename in insetkoste (ons kan hier ook dink aan die styging in die internasionale olieprys) dan nie oor tyd ook verbruikersinflasie skerp begin opdruk nie? Indien dit oor ’n klomp maande gebeur, kan die SARB genoop wees om die prima uitleenkoers vroeër en teen ’n sneller tempo op te stoot as die algemene verwagting.

Weer eens verwag ek nie dat dit ons voorland is nie. Die SARB sal wel na alle waarskynlikheid binne die volgende 12 maande die prima koers van die huidige uiters lae vlak af verhoog, maar dit behoort ’n geleidelike proses te wees. Histories beskou behoort die prima koers oor 12 maande steeds op ’n vlak te wees wat aankope op rente aanmoedig, hoewel dalk 75 basispunte hoër as nou.
Die SARB sal wel na alle waarskynlikheid binne die volgende 12 maande die prima koers van die huidige uiters lae vlak af verhoog, maar dit behoort ’n geleidelike proses te wees.
Die rede hiervoor is dat dit onwaarskynlik is dat oorhoofse verbruikersinflasie in Suid-Afrika veel hoër as in Mei gaan styg. Trouens, die syfer vir Mei was waarskynlik die hoogtepunt in die opwaartse siklus. Hoe is dít dan moontlik in die lig van die skerp toenames in insetkostes?

Die eerste punt om te maak is dat in ’n moeilike ekonomiese omgewing soos nou waar verbruikersvraag na sekere produkte steeds nie te waffers is nie, ons gewoonlik nie ’n volle deurvloei van hoër insetkoste na die verbruiker sien nie. In ’n omgewing van bedeesde vraag (Suid-Afrika is hier anders as byvoorbeeld die VSA, waar vraag vinnig toeneem) absorbeer produsente en kleinhandelaars tipies self ’n redelike mate van die insetkoste. Dit ondermyn hul marges en maatskappye se winsgewendheid ly daaronder, maar die proses help om verbruikersinflasie te bekamp.

Onderskei tussen goedere en dienste
Verbruikersinflasie word gemeet volgens die verbruikersprysindeks (VPI). Die indeks bestaan uit twee hoofkategorieë, naamlik goedere en dienste. Die gewigte in die mandjie vir die twee oorhoofse komponente is min of meer dieselfde. In Suid-Afrika dra goedere (voedsel, klere, ensovoorts) ’n gewig van 49% en dienste (huur, telekommunikasie, versekering, ensovoorts) het ’n gewig van 51%.

Die goedere-deel van die VPI-mandjie wys inderdaad die impak van die hoër insetkoste, ten minste gedeeltelik. Die goedere-komponent van die VPI het in Mei van jaar tot jaar met 8% toegeneem. Belangrik is egter dat die dienste-komponent nie naastenby dieselfde tipe toenames ervaar nie. Die dienste-deel van die VPI het in Mei met slegs 2.7% gestyg teenoor Mei verlede jaar. Omdat dienste net meer as die helfte van die totale VPI-mandjie verteenwoordig, het die veel laer stygings hier gehelp om totale (hooflyn-) verbruikersinflasie in toom te hou.

Ons sien dus die impak van hoër voedsel- en petrolpryse in die goedere-deel van die VPI, maar aan die ander kant is daar slegs bedeesde toenames in dienste se pryse. ’n Belangrike komponent van dienste is die koste van huur (huise, woonstelle, ensovoorts). Volgens Statistieke Suid-Afrika was die totale toename in die koste van huur oor die afgelope 12 maande minder as 1%.

Die Covid-pandemie het ook hier ’n rol gespeel. Weens die groot tekort van buitelandse toeriste word huureenhede wat in die verlede vir korttermyn-vakansies uitverhuur is (dink byvoorbeeld aan Airbnb), nou op die mark gesit vir langtermyn-verblyf. Die hoeveelheid huureenhede op die mark het dus toegeneem. Terselfdertyd is daar mense wat vantevore gehuur het wat nou gebruik maak van die laer rentekoers om hul eie eiendom te koop. Met soveel meer mense wat nou by die huis werk, word voormalige kantoorruimtes ook moontlik nou in residensiële wooneenhede omskep. Dit alles lei tot ’n ooraanbod van beskikbare huureenhede. Dit is op die oomblik ’n sogenaamde huurdersmark.

Relatiewe prysverhogings vs. inflasie
Die publiek is soms geneig om oorhoofse inflasie te verwar met die prys van spesifieke produkte wat hulle gereeld koop. Daar is egter ’n groot verskil tussen die prys van kos of petrol (relatiewe pryse) en die oorhoofse prysbewegings van al die goedere en dienste in die VPI-mandjie (inflasie).

Suid-Afrika ervaar nou skerp toenames in sekere relatiewe pryse. Dit sluit in die prys van basiese noodsaaklikhede soos graan- en vleisprodukte. Die oorhoofse VPI-indeks vir rooivleis en hoender het gewys dat dié produkte 8.5% duurder was in Mei teenoor die ooreenstemmende maand in 2020. Met die jongste verhogings dié week kos petrol en diesel nou nagenoeg 15% meer as in dieselfde tyd verlede jaar. Vir petrol is dit ’n toename van R2.25/liter. Dit kos ’n motoris nou rofweg R100 meer vir 45 liter petrol as ’n jaar gelede. Dit is dié soort stygings wat in mense se agterkoppe vassteek en hulle moontlik laat dink dat inflasie in Suid-Afrika hoog is.

Dit is gelukkig nie die geval nie. Hou ook in gedagte dat Suid-Afrika vanjaar waarskynlik die naasgrootste mielie-oes tot nog toe gaan hê. Hoewel wêreldvoedselpryse hoog is, behoort die groot plaaslike oeste en die rand wat homself eintlik baie goed gedra in die tweede helfte van die jaar die tempo van voedselprystoenames te beperk. Dit beteken steeds dat kos duurder gaan word, maar die tempo van toename behoort te verlangsaam.

Verder is die verwringings in die internasionale verskaffingskanaal nie permanent nie. Produsente sal aanpas en die felheid van Covid sal ook oor tyd verminder namate ’n groter deel van die wêreldbevolking ingeënt word.

Ons ervaar nou ’n tydperk waar die prys van sekere produkte skerp styg. Dit beteken egter nie dat ons bekommerd moet raak oor oorhoofse inflasie wat gaan weghardloop nie. Ons kan ook gerusstelling vind in die hoogs bekwame tegnokrate by die SARB, uitstekend gelei deur Lesetja Kganyago. Die SARB het ’n trotse 100 jaar se geskiedenis en sedert die aanvang van demokrasie het strukturele inflasie in Suid-Afrika stelselmatig op laer vlakke begin stabiliseer.