Nog reen oppad -Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Nadat die tropiese storm Guambe oor die naweek suidooswaarts oor die Indiese Oseaan verdwyn het, begin tropiese vog weer oor die sentrale en westelike dele van Suider-Afrika, soos Botswana en Namibië, uitbrei.

Dit kan gunstige toestande vir reënval oor die sentrale dele van Suid-Afrika veroorsaak. Meer as 50 mm is moontlik oor dié dele tot die begin van volgende week. 

“ ’n Volgende tropiese storm, wat van ongeveer 2 Maart af kan voorkom, kan reënvaltoestande oor die binneland weer tydelik belemmer, maar baie reën is weer moontlik vanaf 7 Maart,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Dié weerstelsel kan aanleiding gee tot reën oor die droër dele van die Noord-Kaap vanaf die tweede week van Maart.

“Die reënvalseisoen tydens La Niña-seisoene hou gewoonlik aan tot Mei, dus kan baie reën nog verwag word. Dit is ook baie gunstig vir die baie droë gedeeltes van die Noorden Oos-Kaap, want die normale reënseisoen daar is van Februarie tot Mei.” Van den Berg maan dat somergraanboere fyn gaan moet beplan vir die risiko van reën gedurende strooptyd, veral vir sonneblom, sojabone, droë- en grondbone in April en Mei. Reën voor die winter? Oor die groot vraag of daar voor die winter reën gaan val oor die gebiede wat kwaai onder droogte deurloop, sê Van den Berg die geskiedenis wys dat Maart vir ’n plek soos Williston die maand is met gemiddeld die meeste reën, gevolg deur Februarie en April.

Vir Jansenville is die beste reënmaand ook Maart, gevolg deur Februarie, Januarie en April. Daar is dus nog ’n groot deel van die reënvalseisoen oor voor die winter vir hierdie gebiede. Van den Berg sê die kans op ten minste die langtermyngemiddelde reënval voor Junie oor die droë gebiede is goed. Redelike sterk La Niña-verskynsels het in die verlede gesorg vir goeie neerslae vanaf Februarie tot Junie.

Vir Williston het daar vir die afgelope ses sterk La Niña-verskynsels sedert 1974, in vyf van die ses jare bogemiddelde reënval voorgekom en vir Jansenville in vier van die ses seisoene. Ernstige droogtetoestande Van den Berg sê in die suidelike dele van die Noord-Kaap en die aangrensende dele van die Wes- en Oos-Kaap het van die gebiede die afgelope eeu vir 20 tot 30 jaar ernstige droogtetoestande ervaar.

Van den Berg konsentreer spesifiek op neerslae in die distrik Williston in die suidwestelike Karoo en die distrik Jansenville in die Oos-Kaap. Die jaarlikse langtermyngemiddelde reënval vir Williston is ongeveer 160 mm en dié van Jansenville ongeveer 265 mm. Sedert 1915 was daar in die distrik Williston 33 jare met minder as 100 mm per jaar, wat ongeveer een derde van die afgelope eeu verteenwoordig. As ’n mens twee derdes van die twee distrikte se langtermynreënval as afsnypunt neem, het Williston in 35 uit die afgelope 105 jaar minder as 106 mm gemeet (67% van die langtermyngemiddelde), terwyl Jansenville in 20 van die afgelope 105 jaar minder as 67% gekry het (176 mm). 2/23/2021

Meer onlangs het Williston vir 2019 minder as 30 mm reën aangeteken, en in 2016 en 2020 het die gebied minder as 100 mm vir die kalenderjaar in totaal aangeteken. Jansenville het in 2017, 2018 en 2020 ook minder as 100 mm vir die hele jaar gekry. Van den Berg sê droogtes kom gereeld in die gebiede voor. Die distrik Williston het in vier periodes ondergemiddelde reënval aangeteken: van 1919 tot 1938; 1942 tot 1951; 1958 tot 1972 en 1978 tot 1993. Wat egter die prentjie versteur, is dat veral Williston bogemiddelde reënval van 2006 tot 2015 aangeteken het, en dit waarskynlik as die nuwe normaal beskou is.

Wat Jansenville betref, het die omgewing van 2000 tot 2015 gemiddelde tot bogemiddelde reënval gekry, maar ondergemiddelde reënval van 1922 tot 1927; 1940 tot 1949; 1957 tot 1962; 1964 tot 1970 asook 1986 tot 1994. Veral in die distrik Jansenville is die afgelope paar jaar van die droogte van die ernstigste op rekord, hoewel langdurige droogtes nie abnormaal is nie, sê Van den Berg.